Update
GEORGE NUUS - 'n Jong seun van George het in die feestyd 'n voorbeeld vir die gemeenskap gestel oor hoe om 'n positiewe impak te maak.
Luhan Smit (9) het elke aand, terwyl die Kersliggies by sy ouerhuis in Ribbokstraat gebrand het, geld en kos ingesamel vir die DBV en Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) in Blanco.
Besoekers kan donasies maak en ook sakke kos vir die vierpootvriende skenk. Uiteindelik kon hy vroeg in Januarie altesaaam 1,4 ton kos aan die twee instansies oorhandig.
Mense wat na die liggies gaan kyk het was nie verplig om bydraes te maak nie en alles was vrywillig. Luhan het elke aand van 18:00 kriewelrig begin raak. Hy kon nie wag dat die liggies om 20:00 aangeskakel word nie.
Wanneer die mense opgedaag het, het hy gevra of hulle 'n lekkertjie wil hê. Hy het dan die mense gevra of hulle nie bereid is om 'n donasie te maak nie, al is dit 10 sent. Hy het geglo elke bietjie help en dit hoef nie geld te wees nie.
Luhan Smit tydens die oorhandiging aan Odin in Blanco.
Luhan is baie lief vir diere. Die familie het onder meer 'n Yorkie, Mischken. Luhan se pa, Kobus, het sedert 2007 die liggies begin opsit. Luhan het in Desember 2021 begin met sy projek.
Luhan se ma, Belinda, het Maandag gesê die mikpunt was 1 ton kos en uiteindelik kon 1,4 ton kos oorhandig word. "Dit het Luhan se verwagtinge oortref."
Sy sê hy gaan dit weer in Desember doen. "Hy het dit baie geniet en was baie entoesiasties oor sy projek. Dit wys 'n kind kan 'n verskil maak en volwassenes kan by hom leer."
LEES MEER: Luhan (9) help diere in nood met kersliggies
Luhan het juis boodskappe van volwassenes ontvang waarin hulle vertel het dat hulle baie by hom geleer het.
Voorts dat mense baie vir die gemeenskap kan doen.
Mense het nie net saans kos en donasies vir hom gebring nie, maar ook bedags. "Luhan is baie dankbaar vir almal se steun."
Luhan Smit tydens die oorhandiging aan Odin in Blanco.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'