Video
GEORGE NUUS& VIDEO'S - In Denneoord is 'n seuntjie, Luhan Smit (9), wat saans nie kan wag dat 20:00 aanbreek nie, want dan word die Kersliggies by sy ouerhuis in Ribbokstraat aangeskakel.
Hy samel elke aand geld in wat gebruik word om kos vir die DBV en Oudtshoorn Dogs in Need (Odin) in Blanco te koop. Besoekers kan ook sakke kos vir die vierpootvriende skenk. Luhan sal sorg dat dit by die twee instansies uitkom.
Sedert hy daarmee begin het, gons dit en verskeie mense het al donasies gemaak as hulle na die liggies gaan kyk. Niemand word verplig om bydraes te maak nie, alles is vrywillig.
Luhan se pa, Kobus, het vertel dat hy sedert 2007 die liggies begin opsit het. Elke jaar is dit meer en as die drade van die liggies aanmekaargelas word, is dit sowat drie kilometer lank. Dit het vyf dae geneem om die liggies in posisie te kry.
"Ons doen dit uit liefde en nie vir advertensie nie. Dis harde werk, maar ons geniet dit."
Die ouerhuis van Luhan Smit in Ribbokstraat, Denneoord wat mooi versier is met Kersfeesliggies.
Die insameling vir dierekos sal tot 24 Desember aanhou. Die liggies sal tot 3 Januarie aan wees.
Soos Luhan die geld ontvang, word die kos gekoop en solank gestoor. Teen Sondag 19 Desember was daar reeds 600 kg se kos en die mikpunt is een ton.
Luhan se ma, Belinda, het gesê die mense kom daarheen, stop en loop rond. "Luhan geniet dit. Dit dra 'n positiewe boodskap en die samesyn van Kersfees uit."
Die ouerhuis van Luhan Smit in Ribbokstraat, Denneoord wat mooi versier is met Kersliggies.
Volgens haar begin Luhan al elke aand van 18:00 kriewelrig raak. Hy kan nie wag dat die liggies om 20:00 aangeskakel word nie. Hy wil graag ander kinders inspireer, want al is hulle jonk, kan hulle 'n verskil maak.
Luhan is baie lief vir diere. Die familie het onder meer 'n Yorkie, Mischken.
Hy nooi mense uit om daar 'n draai te kom maak.
Wanneer die mense opdaag, vra hy die mense of hulle 'n lekkertjie wil hê. Luhan vra die mense ook of hulle nie bereid is om 'n donasie te maak nie, al is dit 10 sent. Elke bietjie help en dit hoef nie geld te wees nie.
Mense het al later teruggekom met sakke kos. Luhan sal dit weer aanstaande jaar wil doen.
Kyk al die kos. Luhan Smit (9) by van die dierekos wat gekoop is.
Foto's: Eugene Gunning.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'