GEORGE NUUS - Die Cape Career Exhibition Association (CCEA) het die week skole in George besoek waar leerders inligting oor verskeie loopbaankeuses kon kry. CCEA het hierdie jaar besluit om die uitstalling na die onderskeie skole te neem.
Douglas Petersen van die instituut sê voorheen het baie skole, wat nie vervoer kon bekostig om sulke uitstallings by te woon nie, aan die kortste end getrek. "Die belangrikheid hiervan is om reeds vroeg met leerders vanaf gr. 9 oor vakkeuses te gesels."
Petersen sê dit is van kardinale belang dat jy al jou uitstallers soos tegnikons, TVET's (Technical Vocational Education and Training) en universiteite onder een dak het sodat die leerders antwoorde op hul vrae kan kry.
Groot universiteite soos Universiteit Stellenbosch, Universiteit van Wes-Kaapland en Nelson Mandela Universiteit was daar, asook kleiner privaat instansies soos die Cornerstone Instituut.
"Die groot doel hier is om blootstelling aan die leerders te gee rakende vakkeuses, beursaansoeke en toelatingsvereistes." Petersen sê wat wonderlik is van so 'n uitstalling, is die inligting wat tot die kind se beskikking is.
Hy voel ook dis belangrik dat 'n kind vroeg reeds weet wat van hom of haar verwag word om te kwalifiseer vir universiteitstoelating.
"Ons help ook kinders om hul keuse 1 en 2 op te bou, ingeval keuse 1 nie uitwerk nie wat om te doen vir keuse 2."
Leerders, ouers en onderwysers het by die verskillende stalletjies inligting gekry.
Leanne Meyer van die Cornerstone Instituut gesels met gr. 9-leerders van York High by Maandag se loopbaanuitstalling.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'