Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Drie matrikulante in die Suid-Kaap het munt geslaan uit hul deeglike kennis oor die jeugroman Onderwêreld, van Fanie Viljoen.
Elma Lamprecht van Hoërskool Outeniqua, Melissa Faku van Fezekile Sekondêr in Oudtshoorn en Altus Lourens van Hoërskool Punt in Mosselbaai het skoonskip gemaak by die Eden en Sentraal-Karoo Onderwysdistrik se jaarlikse Onderwêreld-lees-en-dink-kompetisie.
Dié drie leerders het kontantpryse van R600 (Lamprecht in eerste plek) en R450 (Faku en Lourens in gesamentlike tweede plek) ontvang. Hulle dring deur na die provinsiale kompetisie wat op 25 Augustus in Kaapstad deur die Wes-Kaapse departement van onderwys aangebied word.
Tydens die streekkompetisie verlede Saterdag by Hoërskool George, het twintig leerders die bul by die horings gepak en 'n tawwe vraestel oor hul Afrikaanse voorgeskrewe boek beantwoord.
Die kompetisie het leerders gemotiveer om lekker diep te grawe en meer te leer oor Viljoen se Onderwêreld. Martha de Beer van Hoërskool Langenhoven het 'n bespreking oor die boek gelei.
Onderwysers en leerders wat verlede Saterdag hul kennis oor Fanie Viljoen se boek Onderwêreld getoets het.
Volgens Penelope Bok, vakadviseur vir Afrikaans in die distrik, handel die boek oor die onderwêreld van rekenaars en kuberkrakers.
Kyk 'n video hieronder:
Die verhaal speel af in Lawson-kollege, 'n denkbeeldige skool in die Drakensberge. "Baie leerders vind aanklank by die boek omdat hulle so baie met sosiale media te doen het," het Bok gesê.
"Die idee van die kompetisie is om leerders aan te moedig om die boek 'n tweede en derde keer te lees en beter voor te berei vir die eindeksamen."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'