GEORGE NUUS - Gevaarlike kapmesse, knipmesse en selfgemaakte wapens is verlede naweek tydens 'n grootskaalse patrollie in Conville gekonfiskeer.
Ondanks ongure weer het buurtwaglede van Conville, Proteapark en Rosemoor (Prera), verteenwoordigers van die sekuriteitsfirmas Fidelity ADT, Phangela en LVDS sowel as die plaaslike polisiediens hul teenwoordigheid Saterdag 16 November in dié woonbuurt se strate sigbaar gemaak.
Volgens die voorsitter van Conville-buurtwag, Rudy Lewis, is dit belangrik om die boodskap duidelik oor te dra dat kriminele aktiwiteite deur bendes nie geduld word nie. Lewis het gesê Conville gaan gebuk onder misdaad en die buurt het glo baie probleme met bendes.
"Ons hoofdoel was om soveel moontlik gevaarlike wapens te konfiskeer om sodoende misdaad te probeer bekamp. Ons is ernstig oor ons rol in die gemeenskap," het hy gesê.
Tydens die patrollie is 'n man wat in besit was van 'n gevaarlike wapen glo agterna gesit tot waar hy homself bo-op 'n huis se dak bevind het. "Hy moes maar afkom, hy het geen keuse gehad nie," het Lewis gesê.
Die man is blykbaar aangespreek voordat hy homself uit die voete gemaak het. In nog 'n onlangse suksesverhaal het Conville-buurtwag 'n gesteelde selfoon aan sy eienaar terugbesorg nadat leidrade opgevolg is.
Conville-buurtwag is geregistreer by die departement van openbare beskerming en werk nou saam met die polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) en Conville Primêr. Volgens Lewis is die skool tans in die proses om 'n skeepsvraghouer te bekom van waar die buurtwag bedryf kan word.
Lewis moedig die gemeenskap aan om die buurtwag te ondersteun. Vir inligting kontak hom by 061 977 6098.
Buurtwaglede van Conville, Proteapark en Rosemoor (PRERA), verteenwoordigers van die sekuriteitsfirmas Fidelity ADT, Phangela en LVDS sowel as die plaaslike polisiediens het Saterdag 16 November in dié woonbuurt se strate gepatrolleer.
Selfgemaakte wapens, messe en pangas wat tydens die patrollie gekonfiskeer is.
'Ons bring jou die nuuste George, Tuinroete nuus'