Video
GEORGE NUUS EN VIDEO'S - As daar ooit na 'n nuwe naam vir die Bergrivier-kanomarathon gesoek word, kan hulle dit gerus oorweeg om dit na Jannie Malherbe te hernoem.
Die 83-jarige inwoner van George het Saterdag 8 Julie, die 50ste keer die moordende Bergrivier-kanomarathon voltooi.
Hy is 'n legende wat reeds in 1962 aan die eerste Bergrivier deelgeneem het en dit daarna boonop drie keer gewen het. Hy is ook 'n Springbok-kanovaarder met verskeie titels op sy kerfstok.
Die Bergrivier vind oor 'n afstand van sowat 240 km plaas, maar dit is eintlik langer omdat die rivier kronkel. Dit strek oor vier dae.
Die wegspring is in die Paarl en dit eindig by Velddrif. Hou ingedagte, daar is elke dag afsnytye en Malherbe het dit elke dag gemaak. Sy jongste prestasie is natuurlik niks vreemds nie. Op 'n ouderdom waar baie mense verkies om rustig te raak, ken Malherbe nie van stilsit nie. Benewens sy kano-aktiwiteite is hy nog aktief in die sakewêreld saam met familie betrokke by 'n onderneming wat verfwerk doen.
Sy vrou, Thea Malherbe, staan hom by in die ondersteuning-span vir die Bergrivier. Thea self speel tennis en is die suster van die beroemde internasionale tennisspeler van weleer, Johan Kriek.
Maandag 10 Julie, minder as 48 uur nadat hy die Bergrivier voltooi het, was hy terug in George en hard aan die werk by die sakeonderneming. Hy het ook tyd ingeruim om met George Herald te gesels.
Hy roei al sedert April 1962 en het net in die 70's nie aan 'n paar Bergrivier geleenthede deelgeneem nie. Daarna was hy egter elke jaar by die wegspringplek. Vanjaar was nie die moeilikste Bergrivier waaraan hy deelgeneem het nie.
Soos die gewoonte is het hy vanjaar na elke skof 'n glas rooiwyn gedrink en 'n warm stort geneem.
VIDEO: Jannie Malherbe (83) het onlangs sy 50ste Bergriviermarathon voltooi. Hy het met Group Editors gesels. Video: Eugene Gunning
VIDEO - Jannie Malherbe in aksie tydens een van die skofte van die Bergriviermarathon. Video: Verskaf
Malherbe neem aan die Bergrivier deel omdat hy dit geniet. Volgens hom raak mens verslaaf aan die sport. Hy is baie lief vir die water. En, het hy bygevoeg oor sy deelname: "Dis 'n verskoning om een keer per jaar fiks te word."
Jannie Malherbe by die kano waarmee hy vanjaar se Bergrivier voltooi het. Foto: Eugene Gunning
Gewoonlik begin hy einde Januarie elke jaar met voorbereiding. Dit behels onder meer 'n paar skofte naweke op die strandmeer naby wyle PW Botha se huis.
Hy het gesê tydens 'n skof in die Bergrivier is dit "asof ek in semi-hipnose gaan".
Die rivier is elke jaar anders en hy het liefde/haat verhouding met die Bergrivier.
Op die vraag of hy weer aanstaande jaar gaan deelneem het hy geantwoord: "Vra my oor drie weke." Sy liggaamstaal het egter gesê Jannie sal weer in 2024 by die wegspringplek in die Paarl wees.
Jannie Malherbe (heel regs) staan by sy kleindogter, Danielle Bosman en sy vrou, Thea, tydens vanjaar se Bergrivier.
Jannie Malherbe saam met Etienne Laubscher voor die begin van die tweede skof. Hulle hou die beker vas wat Malherbe in 1963, 64 en 65 gewen het.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’