GEORGE NUUS - Inwoners van George blyk verdeeld te wees oor die herinstelling van tweerigtingverkeer in Hibernia- en Markstraat met sommiges wat voel dat die dorp terug beweeg in tyd.
Een inwoner het gesê die besighede wat gekla het dat hulle nie voete in hul winkel kry nie, gaan nou eers swaar getref word, want hy vermy nou die strate soos die pes, en hy glo hy is nie die enigste een nie.
"Ons probleme was opgelos met die eenrigtingstrate en die verkeersvloei was goed. Nou is ons waar ons vyf jaar gelede was, maar met meer voertuie in die dorp. G’n wonder daar is soveel verkeers-opeenhopings nie," het hy gekla.
Die eienaar van Wool Studio in Markstraat, Melise Richter, het by navraag gesê die eenrigtingverkeer was baie meer effektief.
"Ons was nie van die besighede wat gekla het oor die eenrig-tingstrate nie. Dit het my vyf minute gevat tot by die huis in Heatherpark in die middae gedurende spitstyd. Nou neem dit 15 minute net van my winkel af tot by Yorkstraat. Ek ry reguit oor in St. Johnstraat, maar die verkeerslig slaan omtrent ses keer oor voordat ek York kan kruis omdat soveel motors regs draai in Yorkstraat in. Ek het Cathedral-, Victoria- en Hiberniastraat ook al probeer, maar dit is net so erg. In Hibernia vat dit my 20 minute om tot by Yorkstraat te kom."
Richter sê dit was nie ‘n probleem om verby afleweringstrokke voor winkels soos Joshua Doore te beweeg toe Hibernia nog ‘n eenrigtingstraat was nie, maar nou is dit byna onmoontlik.
Sy stel voor dat parkering tussen 16:00 en 18:00 by die Yorkstraat- en Markstraatkruising verbied word sodat parkeerplekke as rybane gebruik kan word. "Die munisipaliteit het R300 000 spandeer om die tweerigtingverkeer weer in te stel en hulle sal dit sekerlik nie nou terug verander nie?"
‘n Motoris, Charl Louw, het gesê hy het niks teen die feit dat die betrokke paaie weer terug is na tweerigtingverkeer nie, maar hy voel dat daar nie genoeg beplan is om die omskakeling deur te voer nie. Hy meen ‘n eenvoudige oplos-sing is dat daar ‘n paar parkeerplekke in die betrokke strate opgeoffer moet word om motoriste te akkommodeer.
Jannie van der Merwe van Morris Apteek in Hiberniastraat sê hy huil in sy hande oor die chaos met motors wat byna nie kan beweeg in die straat nie.
"Dit gaan nie oor my besigheid nie. Ek het in Hiberniastraat afgeloop en gevra hoe die eienaars voel oor die herinstelling van die tweerigtingstrate. Almal by wie ek was, sê die eenrigtings het vir hulle goed gewerk en dat die huidige situasie chaos veroorsaak. Nie een van hulle het ooit gekla oor die eenrigtings nie," sê Van der Merwe.
Hy het ook bygevoeg dat hy graag sou wou weet hoeveel van die besighede gekla het oor die eenrigtings.
Nog ‘n inwoner wat haar dogter soggens by die Suid-Kaap Kollege in Hiberniastraat aflaai, sê weer die tweerigtingstrate is vir haar baie geriefliker omdat sy nie meer ompad deur die skoleverkeer hoef te ry om by die kollege en dan haar werkplek uit te kom nie.
Bez Bezuidenhout wat ‘n juwelierswinkel in Markstraat besit sê daar was onmiddellik ‘n groot verandering met meer verkeer uit Yorkstraat in Markstraat wat voorheen afgesny was.
Bezuidenhout, een van die kampvegters vir die terugswaai na tweerigtingstrate, sê hoe stadiger die verkeersvloei hoe beter vir die sigbaarheid van besighede en voetgangers.
Hy sê ook dat daar meer lewe is en dat die parkeerplekke in Markstraat, wat voorheen leeg was, voller is.
Mnr. Barend Nelson, die waarnemende direkteur van gemeenskapsveiligheid, sê hulle het nog geen klagtes van die publiek ontvang nie. Hy sê hulle het reeds die siklusse by die verkeersligte op die krui-sings aangepas en monitor die situasie deurentyd.
"Daar is nog hier en daar verkeersopeenhopings, veral by Woolworths. Ons monitor die situasie en kyk na oplos-sings vir probleemareas," sê hy.
Volgens Nelson is daar planne in die pyplyn, moontlik in die volgende finansiële jaar, vir die skep van ‘n glybaan uit Yorkstraat in Markstraat wat die verkeersvloei beslis sal verbeter.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA