Gallery Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Syferfonteiners dreig met geweld as hulle in 'n "oorlogskamp" moet bly. Sowat 400 inwoners van hierdie informele nedersetting in Pacaltsdorp het verlede Vrydag aan 'n vreedsame protesoptog deelgeneem, van die ingang na Rosedale in Beachweg tot by die departement van siviele ingenieurswese in Yorkstraat.
In die griefskrif wat aan die George-burgemeester, Melvin Naik, oorhandig is, vra die gemeenskap dat die minister van behuising, Bonginkosi Madikizela, moet intree om te verhoed dat 'n "oorlogskamp" gebou word "waar dwelms en kriminele aktiwiteite hoogty sal vier".
Die inwoners is ontevrede oor die grootte van die huise en erwe vir 'n beplande ontwikkeling aan die voorkant van Rosedale. Hulle reken die aard van die ontwikkeling gaan hulle weerhou van vryheid, privaatheid en ruimte om hul kulture uit te leef.
Syferfontein is 'n plakkerskamp wat op Pacaltsdorp se ou stortingsterrein, naby Delvillepark, gebou is. Planne om die inwoners te skuif is al jare in die pyplyn.
Groot ontevredenheid het aanvanklik geheers toe dit blyk dat Charles Lubbe, die direkteur van behuising, namens Naik die memorandum sou ontvang. Die mense het dit glad nie aanvaar nie. Naik het later by die span munisipale verteenwoordigers aangesluit en die memorandum ontvang. Hy het aan die skare gesê dat die behuisingsprojek in die hande van die provinsiale regering is en onderneem om die memorandum aan provinsie te stuur vir terugvoer. Die betogers eis antwoorde teen môre, Vrydag 8 Februarie.
James Smith (links) in gesprek met, van links: DA-raadslid Edmund Bussack, burgemeester Melvin Naik en munisipale bestuurder Trevor Botha. Foto's: Michelle Pienaar
Kyk 'n video hieronder:
Nie plek vir 'n dubbelbed
Volgens 'n gemeenskapsleier, James Smith, is die beoogde ontwikkeling glad nie geskik vir mense met gestremdhede nie. "Die erwe is piepklein en die huisies beknop. Ons wil graag dieselfde huise hê as dié wat onlangs in Proteapark en Thembalethu gebou is." Joanie Visagie-Jantjies, een van die optoggangers, het gesê die huisies is so klein, 'n dubbelbed en hangkas pas nie eens in die hoofslaapkamer nie.
Nog 'n kwelpunt is die feit dat sommige inwoners wat destyds vir 'n huis aansoek gedoen het, intussen 'n werk gekry het en meer as R3 500 per maand verdien - die afsny-inkomste om vir 'n RDP-huis te kwalifiseer. Hierdie mense kom dus nie meer in aanmerking vir 'n RDP-huis nie. Die betogers vra dat die kwalifiseringsbedrag tot R6 000 verhoog word.
Smith vra ingryping van die minister, want die Syferfonteiners voel hulle word anders as die res van die dorp se plakkerskampbewoners behandel. SAC-raadslid Bazil Petrus het in 'n brief op 16 Januarie verskeie tekortkominge aan Madikizela uitgewys, onder meer dat die publieke deelnameproses veel te wense gelaat het.
Kommentaar van Madikizela word verwag.
LAATNUUS: 'n Groep van sowat 40 Syferfonteiners het gisteroggend hul bes probeer om bouers op die terrein (erf 325) waar die ontwikkeling reeds begin het, te intimideer. Volgens James Smith het hulle ten doel om die bouery te stop. "Hulle gaan nie verder bou as daar nie met ons gepraat word nie, hulle wil dit probeer deurdruk sonder ons insette," het hy gesê.
'n Betoger hou 'n plakkaat omhoog: "Genoeg is genoeg dat die WK regering ons swart en bruin vir gatte vat!"
Inwoners van Syferfontein beweeg af in Yorkstraat, op pad na die departement van siviele ingenieurswese.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'