GEORGE NUUS - Die Johnson-gesin van Borcherds het al hul besittings verloor ná hul woning op die hoek van De Villiers en Kroghstraat, Dinsdagoggend, 7 Junie, tot op die grond afgebrand het.
Geen beserings of sterftes is aangemeld nie.
Volgens Anthony Johnson, wat saam met sy vrou, Annalene, en hul vyf kinders in die huis gewoon het, kan hulle nie presies verklaar hoe die brand ontstaan het nie, maar daar word vermoed dat dit weens 'n elektriese kortsluiting was.
Niemand was in die huis tydens die brand nie.
"Ons het alles verloor. Gelukkig het ons tydelike verblyf by 'n vriendin wat so goed was om haar hart en haar deure vir ons oop te maak. Ons is dankbaar dat niemand seergekry het nie. Dis ‘n groot skok vir ons, maar ons weet die gemeenskap staan agter ons," sê Johnson.
Volgens George-munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, Chantel Edwards, is sewe mense tydens die brand geraak waarvan drie kinders onder die ouderdom van 18 is. Sy het ook bevestig dat geen beserings tydens die brand opgedoen is nie.
Die gesin is dakloos en sonder enige besittings gelaat.
Enige donasies kan by Outeniqua Plastics in Nelson Mandela-boulevard afgegee word of kontak vir Dewald Barnard by 083 573 8861.
Die gesin benodig dringend klere vir twee dogters (10 en 11), twee seuns (16 en 18), asook hul 27-jarige dogter. Enige ander donasies van huisraad, kos of geld sal ook baie waardeer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'