GEORGE NUUS - Na nege jaar in die posisie as uitvoerende bestuurder vir gemeenskapsdienste by Eden-distriksmunisipaliteit is Clive Africa permanent in die pos aangestel.
Africa het die pos oor twee termyne op kontrakbasis gevul. Sy aanstelling is Maandag tydens 'n spesiale raadsvergadering bekragtig.
Oor sy permanente aanstelling sê Africa hy is baie dankbaar en bly, maar hy is bewus van die uitdagings. "Die uitdagings van die nuwe seisoen is enorm. Brande, klimaatsveranderinge, finansiële volhoubaarheid - dit is alles uitdagings wat ons moet hanteer," het Africa gesê. "Die span by Eden sal suksesvol wees om die raad se doelwitte te laat realiseer."
Africa is trots op Eden se posisie as sewende beste munisipaliteit landswyd, soos bepaal deur Salga (South Africa Local Government Association). Hy is ewe trots op die munisipaliteit se prestasie as wenner vir vier agtereenvolgende jare van die kompetisie vir die groenste dorp in die distrik, asook die Toughest Firefighter Alive-kompetisie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'