In haar 51-jarige aardse bestaan het sy tallose lewens verryk, en veral 'n impak gehad op die lewens van mense met gestremdheid.
Esther was die stigter van die OCC en het dit saam met haar komitee oor 'n tydperk van 10 jaar uitgebou tot een van die grootste jaarlikse plaaslike sportgebeure wat internasionale atlete hierheen trek. Sy was 'n stoere kampvegter vir die regte van mense met gestremdheid. Madelein Eddy se kommentaar op die George Herald se Facebook-blad, is gepas: "Sy was elke gestremde se vriend."
Esther het in Augustus verlede jaar 'n beenmurgoorplanting ondergaan nadat leukemie by haar gediagnoseer is. Toe sy einde verlede jaar ná die oorplanting van die Kaap af terugkeer om tuis aan te sterk, was sy uiters broos, maar ongeduldig dat haar immuniteitsvlakke moes verbeter. 'n Moeisame pad het voorgelê. Sy het onlangs gebieg dat sy gou moeg word, maar eie aan haar aard wou sy nie stilsit nie. Sy het haar take by die George-munisipaliteit se afdeling vir geslagsgelykheid en gestremdheid gedeeltelik hervat en weer begin hand bysit met die reëlings vir volgende jaar se OCC.
Twee weke gelede is sy in die Mediclinic George opgeneem weens 'n terugslag en longkomplikasies het ingetree. Sy is op haar oudste broer, Freek, se verjaardag oorlede.
'Sy het liefde uitgeleef'
Laurence, haar man van 17 jaar en professor aan die Wetenskapfakulteit (natuurbewaring) by NMMU Saasveld, was Maandag hartseer toe hy haar vanuit hul huis in Denneoord beskryf het as 'n mens wat liefde uitgeleef het soos dit in Galasiërs 5:22 beskryf word - vol welwillendheid en vreugde, getrou en sagmoedig.
"Net met die geduld en vrede het sy dalk bietjie gesukkel." Dit het herinner aan Esther se beskrywing van haarself pas ná haar terugkeer uit die Kaap. In 'n gesprek met die George Herald het sy gesê dat die siekte haar een ding geleer het, en dit was geduld, want sy "is iemand wat dinge gister al gedoen wil hê". Maar hierdie was een van haar karaktertrekke wat gemaak het dat 'n geleentheid soos die OCC suksesvol onder haar leiding aangebied kon word.
Esther was 'n buitelugmens wat haar en Laurence se kampvakansies geweldig geniet het. Sy het 'n joernaal met foto's en beskrywings van elke vakansie gemaak. Laurence vertel dat sy ook graag weggebreek het na hulle "plossie" (kruis tussen 'n plaas en 'n plot) - haar benaming vir die kleinhoewe in die Vleesbaai-omgewing waarin die egpaar 'n aandeel het.
Haar jonger suster en haar beenmurgskenker, Helene Olivier, het bewoë vertel dat Esther altyd ander mense se lewens wou beter maak. "Ons is 'n hegte familie en Esther was soos ons almal baie familievas. Haar raad was altyd net 'n oproep ver. Vir ons was sy net ons sussie. Sy het nooit gepraat oor alles wat sy bereik het en die dinge wat sy hier in George vermag het nie. Haar naam beteken 'ster' en dit is wat sy was."
Toekennings
Esther se diens aan die gemeenskap het aan haar 'n rits toekennings besorg: Shoprite Checkers/SABC 2 Vrou van die Jaar 2006, Interflora Vrou van die Jaar 2007, Finesse Vonkelvrou 2008 en Wes-Kaap Nedbank Vrou van die Jaar 2010. Sy het ook vanjaar erelidmaatskap van Rotary Internasionaal ontvang, en net voor sy onlangs in die Mediclinic opgeneem is, is sy vereer met die SWD Sportgemeenskapsbouer van die Jaar-toekenning.
Benewens haar voltydse werk en betrokkenheid by die OCC, was sy ook voorsitter van die Vereniging vir Persone met Gestremdheid, lid van die George-hospitaalraad en 'n stigterslid van die Bethesda-hospies.
Grootwordjare
Esther het saam met haar twee broers en suster op hul ouers se plaas in die Thabazimbi-omgewing grootgeword. Helene onthou hoe haar "ousus" die hele biblioteek van Koedoeskop Laerskool meer as een keer deurgelees het om haarself te verryk. Nadat sy in 1980 aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp gematrikuleer het, het sy arbeidsterapie aan Kovsies gestudeer en daarna 'n honneurs in sielkunde aan die Potchefstroomse Universiteit verwerf. Sy het haar opvoedkundestudies hierna buitemuurs aangepak, en dit was terwyl sy vir 'n praktiese proeftydperk by die Laerskool George-Suid gewerk het, dat sy en Laurence ontmoet het. Sy het in 1995 George toe verhuis waar sy as arbeidsterapeut gewerk het, eers by die Akkertjie-voorskool in Pacaltsdorp en later onder die George-munisipaliteit se gesondheidsdepartement.
In 1996 is sy en Laurence getroud. Hy vertel: "Dit was die beste troue waarop ek nog was. Dit het Vrydag begin en Sondag klaargemaak. Esther het my die alleenloperbuffel genoem wat sy kom aankeer het."
'Die Generaal'
Ansie Swart, voorsitter van die OCC-komitee, het gesê Esther het gedurende haar ergste ontbering weens haar siekte nooit gekla of haar lot betreur nie. "Ek sien dit nou nog as ek kyk na al die reëlings vir OCC 2014 wat reeds getref is en nuwe dinge wat sy in plek gesit het om dit vir ons as komitee makliker te maak. Haar nagedagtenis sal vir baie lank in die OCC voortleef. Sy was eksentriek, soms hardkoppig - dis hoekom ons haar Die Generaal genoem het. Haar energie het my altyd aan ‘n Duracell-hasie laat dink. 'n Merkwaardige en begaafde vrou soos Esther word maar slegs een keer in 'n lang tyd aan 'n familie, 'n gemeenskap en 'n land gegee."
George se burgemeester, Charles Standers, het gesê Esther was ‘n lojale amptenaar en persoon op wie hulle kon staatmaak. "Sy was simbolies van toegewydheid, opoffering en die stap van die ekstra myl. Ek was bevoorreg om een van die grootste fondsinsamelingsprojekte, die Burgemeestersglansgeleentheid, vanjaar met die grootse sukses aan haar toe te vertrou."
Donald Goldfain, voormalige president van die George Rotary-klub wat met die reëlings van OCC 2013 ingegryp het nadat Esther siek geword het, het gesê sy het hulle almal met haar toewyding en leierskap geïnspireer.
Esther laat Laurence, haar ouers, Piet en Albie Kloppers, suster Helene en twee broers, Wilhelm en Freek agter.
Sy word vandag, Donderdag 5 Desember om 14:00 vanuit die Metodistekerk, Plantasieweg begrawe.
Sien nog foto's hier.
.jpg)
Esther en Ernst van Dyk tydens 'n vorige OCC.
ARTIKEL: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George | Tuinroete nuus'