Gallery Update Video
GEORGE NUUS & VIDEO - Talle mense het Vrydag 1 Desember 'n feestelike dag by die Conville-gemeenskapsaal ter viering van Wêreldvigsdag bygewoon.
Van die aktiwiteite gedurende die dag het 'n pretstap ingesluit asook die aansteek van kerse ter herinnering aan diegene wat die stryd teen MIV/Vigs verloor het.
Daar was ook verskeie inligtingstalletjies gerig op veral skoolkinders, wat kwessies soos mishandeling, boelies, menseregte, MIV/Vigs, dwelmmisbruik, groepsdruk, seksuele onthouding, gesonde leefstylkeuses, jeugontwikkeling, geslagskwessies, depressie en selfmoord aangeraak het.
Choice Somagaca, voorsitter van die plaaslike vigsraad, sê vanjaar is daar op die jeug gefokus, sodat goeie opvoeding oor die virus alreeds by die jongspan kan begin.
"Ons kom 'n lang pad met vigs, maar mense is steeds bang vir die stigma wat met die virus gepaard gaan.
"Mense moet opgevoed word oor die gevare en maatreëls wat ingestel kan word om die virus te voorkom." Somagaca moedig mense aan om jaarliks herdenkings op Wêreldvigsdag by te woon.
Raadslid Vincentius Muller, het tydens die hooftoespraak genoem dat, "'n Gesonder gemeenskap kan net bereik word indien ons almal hande vat.
"Moet nooit vergeet dat jy 'n verskil kan maak nie. Moedig ook vigsleiers aan om goed te leef en spreek hoop in hulle lewens."
Kyk 'n video hieronder:
Rolspelers wat die dag moontlik gemaak het, het nasionale en provinsiale departemente van gesondheid, korrektiewe dienste, huishoudelike sake, die polisie, Youth for Christ, Options, Ithemba Lobani, Thuthuzela Care Centre, Sanca, Pasa en Famsa ingesluit.
Leerders van Heidedal Primêr het 'n dansitem opgevoer. Fotos: Luzuko Sampo
ARTIKEL: BRÜMILDA SWARTBOOI, GEORGE HERALD-LEERLING VERSLAGEWER
VIDEO: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'