Update
GEORGE NUUS - 'n Model replika van die laaste stoomtrein waarvan Pieter van der Berg van George jare gelede in beheer was, is die besonderse geskenk wat sy kinders vir hom met sy 80ste verjaarsdag in Desember gegee het.
Hy was skoon aangedaan toe hy die geskenk tydens verjaardagvieringe aan huis by familie ontvang het.
Van der Berg is deel van 'n al kleinerwordende geslag wat nog met stoomlokomotiewe die treinwiele laat rol het.
Die model is 'n 24 klas stoomlokomotief 3675. Dit is destyds vernoem na sy dogter, Tillie Nel, wat in George woon. Net soos op die oorspronklike lokomotief, is haar naam ook voorop die model. Die model staan op die oomblik aan huis by een van sy kleinkinders in George.
Destyds was dit sy gunsteling lokomotief. Dit het tussen Kaapstad en Simonstad gery.
Van der Berg dink deesdae met groot nostalgie terug aan sy dae in die destydse Suid-Afrikaanse Spoorweë. Hy het Maandag vertel dat sy loopbaan in Julie 1961 begin het as 'n kwekelingstoker in Paardeneiland. In April 1962 het hy gekwalifiseer as 'n volwaardige stoker. Voor hy dit kon regkry, moes hy eers intensiewe opleiding ondergaan.
In 'n stadium het hy in Tafelbaaihawe gewerk. Oor 'n tydperk van byna 20 jaar, wat gestrek het van 1961 tot 1980, het hy met nege verskillende lokomotiewe gery.
In 1981 is stoomlokomotiewe uitfaseer. "Ons het 'n keuse gekry: elektries of diesel," het hy vertel.
Hy het elektries gekies en hy moes weer opleiding ondergaan. Dit was vir hom vreemd om van stoom na elektries oor te gaan en dit was 'n groot aanpassing.
Na al die jare verkies hy steeds stoom bo elektries. "Elektries praat, maar 'n stoomtrein praat met jou." Hy het nog foto's van die stoomlokomotiewe wat hy bestuur het.
Die besonderse geskenk was die idee van sy drie kinders, Dirk, Anton en Tillie, wat vir Bertus Burger van Goodwood, Kaapstad gevra het om dit te maak.
Van der Berg was baie verras en het gesê dit bring goeie herinneringe terug. Hy sal graag wil sien dat die Choo Tjoe trein weer ry. Hy het destyds as passasier daarop gery. "Dis jammer dat die spore tot niet gegaan het. Die trein kan baie vir toerisme beteken."
Nel het gesê hulle wou 'n besonderse geskenk vir haar pa gee. "Hy het 'n passie vir stoomlokomotiewe."
Burger sê dit het hom sowat agt maande geneem om die model te bou. Hy het dit deeltyds gedoen. Hoewel dit op skaal gebou is, was dit nie moeilik nie, maar die parte wat nie gekoop kon word nie, moes hy self maak. Hy sê hy is lief om met sy hande te werk en het ook 'n algemene liefde vir stoomlokomotiewe.
Die model wat Pieter van der Berg met sy 80ste verjaarsdag ontvang het:
Vorige artikel: 'n Speelding vir sy 80ste
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'