TUINROETE NUUS - September is Internasionale Dimensie en Alzheimers Bewusmakingsmaand.
ADASA (Alzheimers en Demensie Vereniging van Suid-Afrika) is 'n nie-winsgewende organisasie (NWO), wat in 1985 gestig is en word deur 'n beheerraad ondersteun.
ADASA is daartoe verbind om die lewenskwaliteit van persone met demensie en Alzheimers, hul naasbetaandes en versorgers te verbeter en te ondersteun.
Daar is ADASA-kantore in al die provinsies. Dié kantore word aangewend om ondersteunings-dienste (ook groepe), die bewusmaking van én die opleiding van versorgers aan te bied.
Dié internasionale bewusmakingsveldtog word jaarliks op die 21ste September gevier.
Plaaslik is die Sonja Smith Begrafnisgroep betrokke met verskeie gemeenskapsprojekte en 'n kompetisie ten bate van die SAVDA, waar die publiek ook betrek word om die bewusmaking van dié gevreesde siektetoestande te verhoog.
Die Alzheimer's en Demensie Memories Matter Walk sou Maandag, 25 September, plaasgevind het by die Botaniese Tuin in George maar omdat die weervoorspelling vir Maandag 70mm reën wys, gaan die Familie en Markdag uitgestel word tot 15 Oktober.
Donasies van R20 per volwassene en kinders ouer as 12 sal ten bate van ADASA by die registrasie betaalbaar wees. Kinders onder 12 sal gratis kan saamstap.
Piekniek
Almal is ook welkom om 'n familie-piekniek te kom geniet ter ondersteuning van die mark in die pragtige tuine. Indien jy 'n geliefde het, wat tans ly aan Alzheimers se siekte of demensie of reeds daaraan oorlede is, wil ons jou ook nooi om 'n foto saam te bring vir ons Herinneringsmuur.
Vroetelprojekte, wat insluit die maak van vroetelvoorskote en kussings asook vroetelmoue vir mense wat met Alzheimers en demensie saamleef, het gister reeds afgeskop.
Lyers van hierdie siektes vroetel en trek voortdurend aan hul klere, komberse en kussings en is geneig om hulself seer te maak indien hulle niks het om hulself mee besig te hou nie.
Die vroetelvoorskote het verskeie interesssante vroetelitems daarop vasgewerk, wat gebruik sal word om 'n persoon besig te hou in tye wanneer hulle deurmekaar, angstig of net stil is.
Daar gaan ook 'n prys wees vir die beste drie items in elke kategorie, wat 'n naweek vir twee persone op Witsand insluit.
Die voorskote/kussings/moue wat ingesamel is, sal geskenk word vir die plaaslike tehuise/versorgingsoorde wat werk met pasiënte met Alzheimers en demensie.
Die sluitingsdatum is 31 Januarie 2024. Tien finaliste gaan gekies word in elke kategorie wat in Februarie 2024 hul handewerk gaan vertoon by 'n mode-parade waartydens die wenners aangekondig sal word.
Items om te skenk
Die publiek word uitgenooi om deel te neem aan die maak van die items en kan ook die volgende benodigdhede skenk wat aangewend sal word vir die projek.
- Materiaal
- Wol
- Groot knope
- Ritssluiters
- Skoenveters
- Toutjies
- Linte
- Klittenband (velcro)
- Borrelplastiek
- Vilt
- Klein sagte speelgoed
- Gespes (buckles)
- Hare-rekkies (dik)
- Mopoortreksel (Floorwiz)
- Sleutelhouers
- Krale
Afsetpunte
Sonja Smith Begrafnisgroep se kantore kan gebruik word vir afsetpunte en ontvangs van hierdie items: CJ Langenhovenstraat 23, Dormehlsdrift, George (044 110 0020 of 064 750 6125) of Soetdoringstraat 32, Heiderand, Mosselbaai (044 110 0021 of 064 750 6127).
Vir meer inligting, inskrywingsvorms, asook die reëls van die kompetisie, kontak Christelle (christelle@ssfg.co.za). Vir meer inligting oor SAVDA, kontak Hettie Theron (082 699 7600 of hettie.theron@adasa.org.za).
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’