Shaw het Engelmure, gebaseer op Psalm 91 en een van die liedjies op haar nuwe CD, God is my stem, vir die egpaar gesing. Dié CD, haar eerste in 15 jaar, is Maandag amptelik vrygestel en bevat 14 liedjies wat Rudi Claase van Lieflinge-faam spesiaal vir haar geskryf het.
James het begin deur vir die bruidspaar sy baie bekende Dankie te sing. Na nog 'n paar liedjies het hy en Shaw hande gevat en saam vir die twee verliefdes gesing. Shaw vertel dat dit altyd lekker is om saam met Lance James te sing. "Saam maak ons magic," het sy gesê en bygevoeg dat omdat hy 'n oktaaf hoër as sy sing, hul stemme besonders goed saamsmelt.
Dié twee het van 1968 tot 1975 saam getoer en daarna hulle onderskeie rigtings ingeslaan. Shaw het tot die bediening toegetree en James het sy sololoopbaan gevolg. In 2009 is die twee by Skouspel vereer vir hul lewenslange bydrae tot die Afrikaanse musiekwêreld. Hierop het verskeie televisie-onderhoude gevolg en hulle het twee liedjies saam gesing in 'n episode van die sepie, 7de Laan. Die kykers het versoeke vir gesamentlike optredes aan Mara van der Bergh, die twee se agent gerig, en so het hulle weer begin saam optree.
Die twee het bykans agt jaar gelede laas in die Suid-Kaap saamgesing toe hulle aan 'n "Toeka tot Nou"-konsert op George, wat deur Derek se pa, Skolla Payne, gereël is, deelgeneem het. "Dis lekker om weer terug te wees in hierdie ongelooflike mooi deel van die land," het Shaw gesê.
Skolla, 'n musiekvervaardiger, en sy vrou, die sangeres Shilo, het onlangs weer teruggetrek Suid-Kaap toe nadat hulle 'n paar jaar in die noorde gebly het. Shilo het ook die egpaar met 'n Duisend Maal toegesing.
Baie lesers sal vir Shilo onthou as die mooi vrou in 'n wit gewaad wat jare gelede op Bayview se strand voor 'n klavier gesit en speel het terwyl 'n video geskiet is. Die see het egter ander planne gehad en 'n fratsgolf het die hele idilliese prentjie omvergegooi toe Shilo en klavier onder 'n brander deurgeloop en druipnat anderkant uitgekom het. Die klavier was nooit weer dieselfde nie.
Twee Afrikaanse ikone, Min Shaw (tweede van regs) en Lance James (regs) was Saterdag die eregaste by die troue van Petro Joubert en Derick Payne. Derick se stiefma, die sangeres Shilo (derde van regs) het ook vir hulle gesing. Derde van links is Derick se pa, Skolla Payne, van One and One-musiekmaatskappy.
ARTIKEL EN FOTO: DENISE LLOYD