Update
GEORGE NUUS - Sewe verdagtes tussen die ouderdomme van 18 en 21 jaar, het Maandag 5 September in die George-landdroshof verskyn in verband met die aanval op Maximilian Reimann (20) van Harmony Park in Pacaltsdorp.
Johnwill Tarentaal (20), Shannen-Lee Botha (18), Jody Botha (21), Sheldon Remas (19), Ethan Bevie (21) en Chadwill Kiewiet (19) is verlede week in hegtenis geneem en sal weer op Maandag 12 September in George verskyn wanneer hulle vir hul formele borgtog aansoek doen.
Tarentaal word deur Clayton Samson van Jansen en Samson Prokureurs verteenwoordig en Botha deur Winston Jansen van dieselfde firma. Die ander verdagtes het almal vir regshulp aansoek gedoen.
'n Sewende verdagte (17) is op Maandag 5 September in hegtenis geneem en was geskeduleer om Dinsdag in die hof te verskyn. Die verdagte is 'n minderjarige (jonger as 18), dus mag sy identiteit nie bekendgemaak word nie.
Reimann is na bewering in die vroeë oggendure van Saterdag 27 Augustus in Missionstraat aangeval en vir die dood agtergelaat.
Hy is later die oggend langs die pad in Kerkstraat deur 'n inwoner, Charlotte Edwards, gevind.
Reimann was half verkluim toe sy hom gekry het en sy klere was van sy lyf afgeskeur. Hy het ook ernstige gesigbeserings gehad waarvoor hy op Woensdag 31 Augustus in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad geopereer is.
Reimann is reeds uit die hospitaal ontslaan en volgens sy pa, Martin Reimann, was die operasie 'n sukses en hulle verwag dat hul seun volkome sal herstel. "Hy is nog baie bang en getraumatiseerd, maar ons glo hy sal herstel," sê sy pa.
Die verdagtes staan almal tereg op 'n skedule 6-aanklag van roof met verswarende omstandighede en bly in aanhouding in die tronk op Mosselbaai.
Die saak dien voor landdros Theolin November en Eric Mtyhobile is vir die staat.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'