Update
DE RUST-NUUS - ’n Man het vermoedelik in die vloedwaters van Meiringspoort verdrink nadat hy die afgelope naweek deur ’n rivier meegesleur is.
Volgens inligting van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit het die voorval Saterdag 9 Mei by Klaarstroom, aan die voet van die Swartberge, plaasgevind. Die man het glo probeer om ’n rivier oor te steek toe hy deur sterk vloedwater meegesleur is.
Oudtshoorn Courant het verneem dat daar glo nog 'n persoon by was toe die voorval gebeur het, maar dat hy veilig deur die rivier kon kom.
Sy pa het sedertdien na hom gesoek, waarna die liggaam vandag 11 Mei in Meiringspoort opgemerk is.
Owerhede het bevestig dat die liggaam opgespoor en herwin sal word sodra weerstoestande dit toelaat dat ’n helikopter veilig kan vlieg.
Die Uitvoerende Burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit, Marais Kruger, het sy meegevoel uitgespreek.
“Namens die Tuinroete wil ek ons opregte meegevoel betuig aan die families, vriende en geliefdes van diegene wat hul lewens tydens hierdie tragiese voorvalle verloor het,” het hy gesê.
'n Navraag is vroeër vandag aan die polisie gestuur, maar geen terugvoer is tot dusver ontvang nie.
Storm duur voort
Intussen waarsku die Wes-Kaapse Provinsiale Regering steeds Wes-Kapenaars teen die storm wat môre 12 Mei gaan voortduur terwyl rampbestuurorganisasies saam met onderskeie munisipaliteite voort gaan om stormskade te herstel.
Volgens die Tuinroete-distriksmunisipaliteit is die ESKOM-spanne ook steeds met herstel van elektrisiteitsinfrastruktuur besig, asook die herstel van 10 beskadigde kraglyne in die Kammanassie- en Langkloof-gebiede.
Daar word ook steeds aan grondverskuiwings op die R328 (die grottepad) gewerk en water word steeds aan gemeenskappe voorsien.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’