Update
GEORGE NUUS - Drie jaar nadat Quinten Potgieter in 'n motorongeluk in Knysnaweg gesterf het, is die ander betrokke motoris, Jayne van Schalkwyk (39), verlede Vrydag in die George-streekhof skuldig bevind aan strafbare manslag en gevonnis.
Sy is tot vier jaar tronkstraf gevonnis, wat in geheel vir vyf jaar opgeskort is.
Die voorwaarde van die opgeskorte vonnis is dat sy gedurende dié tydperk nie skuldig bevind mag word aan moord, strafbare manslag of roekelose en nalatige bestuur nie.
Potgieter (27), 'n plaaslike biokinetikus en oudste seun van dr. Adele Potgieter, is op 13 Julie 2022 in George-hospitaal oorlede. Hy was op pad huis toe in sy Chevy Sonic ná 'n oefensessie met die Crusaders-rugbyspan by die Rosemoor-stadion, toe Van Schalkwyk se wit Jaguar sy motor teen 'n hoë spoed by die Le Vallia-afdraai getref het.
Die polisie het toe gesê twee voertuie was by die botsing betrokke. Van Schalkwyk se Jaguar, wat sy in die rigting van die Garden Route Mall vanaf Knysnaweg bestuur het, en Potgieter se Chevy toe hy vanuit Le Vallia gekom het. Van Schalkwyk is daarvan aangekla dat sy 'n rooi verkeerslig teen 'n hoë spoed verontagsaam het en die Chevy op die kruising getref het.
30 maande huisarres
Van Schalkwyk is tot 'n verdere 30 maande huisarres gevonnis. Sy mag haar woning slegs verlaat om gemeenskapsdiens te verrig en aan rehabilitasieprogramme deel te neem.
Sy moet ook 16 uur gemeenskapsdiens per maand lewer vir die volle duur van haar vonnis. Haar rybewys is gekanselleer en sy is ongeskik verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Die hof het verder gelas dat sy Quinten se pa, Chris, met R100 000 moet vergoed vir begrafniskoste en ander verwante uitgawes. Hierdie bedrag moet in vyf paaiemente van R20 000 elk betaal word.
Dr. Potgieter het die week by navraag gesê hulle is bly "die deel is verby en dat hulle nie meer hof toe hoef te gaan nie".
"Wat kan ek sê, vir ons as ouers, niks, geen straf sal ons kind terugbring nie. Ons sal ook nooit die hoekoms ken nie. Daardie leemte bly daar, maar 'n mens gaan aan. Jy leer maar om daarmee saam te leef."
Vorige artikels:
- Geliefde jongman sterf in Knysnaweg-ongeluk
- Gedenkdiens vir Quinten Potgieter
- Biokinetikus sterf in Knysnaweg-ongeluk
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’