Update
GOERGE NUUS - Een van die mans wat verantwoordelik was vir twee gewelddadige huisrowe in George gedurende 2022 is uiteindelik gevonnis.
Mncedisi Moses Mjoli (40) van Thembalethu is onlangs in die Plettenbergbaai-streekhof tot effektief 24 jaar gevonnis vir sy rol in 'n reeks verswarende roof- en diefstalsake.
Sy arrestasie en suksesvolle vervolging volg ná maande se ondersoek na aanvalle wat inwoners getraumatiseer en beseer het.
Die voorvalle, wat onderskeidelik in Glen Barrie en Loeriepark plaasgevind het, het dieselfde modus operandi gehad. In albei gevalle is weerlose bejaarde egpare in hul huise oorrompel, met wapens gedreig, aangeval en vasgebind.
Mjoli is op 13 September 2022 by sy huis in Thembalethu in hegtenis geneem ná sy woning deursoek is en die slagoffers se eiendom in sy besit gevind is.
Op die twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede, het Mjoli 15 jaar tronkstraf elk gekry, vier jaar vir die eerste aanklag van diefstal, twee jaar vir die tweede een en vier jaar vir die derde een.
Die hof het beveel dat die vonnisse op aanklagte twee en drie saam met aanklag een uitgedien moet word, en dat aanklag vyf saam met aanklag vier uitgedien moet word. Verder sal vyf jaar van die vonnis op aanklag vier saam met aanklag een uitgedien word.Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Die Kotzé-aanval
Een van die slagoffers, Hennie Kotzé was destyds 62 jaar oud toe hy en sy vrou, Hanlie (61) op Sondagoggend, 21 Augustus 2022, in hul huis in Loeriepark aangeval is.
Volgens die egpaar was hulle in hul slaapkamer toe twee gewapende mans, een met 'n koevoet en die ander met 'n mes, hulle oorrompel, aangerand en vasgebind het.
Die aanvallers het hul bankkaarte en PIN's geëis voordat hulle met kontant, juweliersware, selfone en 'n voertuig, wat later verlate naby Pacaltsdorp gevind is, gevlug het.
Hennie het steekwonde en ernstige kopbeserings opgedoen nadat hy met die koevoet geslaan is. Hanlie het verskeie ernstige beserings opgedoen, insluitend 'n vergruisde pols en diep snye aan haar arms en hande.
Glen Barrie-egpaar ook aangeval
Net 'n paar weke voor die Kotzé-aanval, op Dinsdag 2 Augustus, is Minne (destyds 80) en sy vrou, Lia Horneman (destyds 75), soortgelyk in hul huis in Arbourweg oorval.
Twee gemaskerde aanvallers, gewapen met 'n mes en 'n skroewedraaier, het hulle vasgebind, hul bank-PIN's geëis en met hul motor en ander waardevolle items gevlug.
Die egpaar se voertuig is die volgende aand teruggevind met die sleutels nog daarin.
Plettenbergbaai-landdroshof wat Mjoli gevonnis is.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’