OUDTSHOORN NUUS - "Ek het nie vir Abraham doodgemaak nie. Ek het niks aan hom gedoen nie."
So het Francisco Erasmus (50) van George, Maandagoggend, 2 Junie, ter strafversagting voor vonnisoplegging aan die hof gesê.
Erasmus is Donderdag 29 Mei, in die Oudtshoorn-streekhof aan moord met voorbedagte rade op die 60-jarige Abraham Herandien, 'n veewagter van Bloupunt, Dysselsdorp, skuldig bevind en Maandag lewenslange gevangenisstraf opgelê.
Die liggaam van Herandien is op Dinsdag 21 Maart 2023, met veelvuldige steekwonde deur verkeersbeamptes in 'n motor, wat deur Erasmus bestuur was, op die De Rust-pad gevind. Hy het gesê dat hy met 'n passasier op pad was na die hospitaal.
Erasmus, wat homself verdedig het, het die hof gevra om in ag te neem dat hy tans 'n vonnis van 32 jaar uitdien en reeds 50 jaar oud is. Voorts is sy ma baie siek en het hy ook 'n vrou en dogter vir wie hy moet sorg.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof versoek om nie af te wyk van die maksimum vonnis nie omdat Erasmus aan 'n baie ernstige misdryf skuldig bevind is en geen berou toon nie.
Die oorledene se vrou, Hester Herandien, is baie ongelukkig omdat sy nie eintlik familie het nie
In 'n slagofferimpakverslag van Hester sê sy dat sy en haar man 42 jaar bymekaar was en vir 35 jaar getroud was.
"Abraham was my alles. Hy was my hart en siel. Hy was 'n sagte mens wat vee opgepas en ander los werkies gedoen het. Hy was 'n harde werker en ek mis hom verskriklik baie.
As ek geweet het wat daai man met Abraham gaan doen, sou ek hom nooit saam met hom laat gaan het nie."
Streeklanddros Ntsoki Moni het bevind dat Erasmus die moord beplan het en dat daar geen versagtende omstandighede vir 'n ligter vonnis is nie.
Die moord was beplan
Erasmus het die moord in fyn detail beplan.
Hy het die Herandien-egpaar in 2020 ontmoet en vir hulle gesê dat hy hulle sal help en vir hulle kos sal koop. Hy het hulle ook met hul banksake gehelp. Erasmus het die dag van die moord 'n motor in George gehuur om Herandien by sy huis op Bloupunt te gaan haal om hom na Oudtshoorn te neem en te help met hom en sy vrou se Sassa-kaarte.
Hy het hom so vermom dat niemand hom kon herken nie. Hy was in klere wat gewoonlik deur Moslem-vroue gedra word geklee, en het ook blou kontaklense ingehad. Niemand het hom herken nie, net sy oë was sigbaar. Terwyl hulle gery het, het hy Herandien verskeie kere met 'n mes gesteek.
Toe hy deur twee verkeersbeamptes, Jean-Pierre Viviers en Paul Stassen, voorgekeer is, het hy gesê dat hy met 'n beseerde man onderweg was na die hospitaal.
Herandien het by 'n padblokkade aan die twaalf steekwonde aan sy liggaam beswyk. Vroueklere, waaronder die kontaklense 'n grys bra, en 'n mes onder die sitplekmatjie, is in die motor gevind.
Die hof het gehoor dat Erasmus lewenspolisse vir die oorledene en sy eggenote uitgeneem het, en dat hy die begunstigde was.
Volgens 'n ander staatsgetuie, Chrisjan May, het Erasmus dieselfde modus operandi op hom probeer. Hy het voorts getuig dat Erasmus 'n gewelddadige man was wat mense vir geld aangerand het.
Erasmus het 'n reeks vorige veroordelings, wat poging tot moord, ontsnapping uit die tronk, onwettige besit was wapens en aanranding met die opset om ernstig te beseer insluit. Hy was op parool uit toe hy die moord gepleeg het.
Die stigter van die organisasie Oudtshoorn Community Against Crime, Leon Campher, kon na die vonnisoplegging nie sy trane van dankbaarheid keer nie.
"Geregtigheid het vandag geskied en ek wil die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, die ondersoekbeampte ao. Kuhn en die landdros namens die gemeenskap bedank," het Campher gesê.
Vorige berigte:
- Herandien moordenaar kry lewenslank
- Vermeende moordenaar verdedig homself
- Borgtog geweier aan vermeende moordenaar
- Herandien-moordsaak vir borgtog uitgestel
- Moordsaak vir borgtog uitgestel
- 12 Steekwonde aan liggaam van oorledene
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’