GEORGE NUUS - Jannie Durand, uitvoerende hoof van Remgro, het gister, Donderdag 23 Oktober, by 'n sakeontbyt in George gesê die afgelope vyf jaar was vir hom die moeilikste ooit in sy 30 jaar by die maatskappy.
Durand was die gasspreker by die jaarlikse Selzer Developing Consultants-sakeontbyt wat by Hawthorn Boutique-hotel gehou is.
Hy het gesels oor drie groot skuiwe wat Remgro sedert 2019 gemaak het as deel van die maatskappy se strategie om hul portefeulje te herstruktureer en vereenvoudig.
In 2019 is onderhandelinge begin vir die samesmelting tussen Remgro se Distell met die internasionale biervervaardigingsreus Heineken; voelers is uitgesteek vir die verkryging van ’n vennoot vir Mediclinic; en daar was onderhandelinge met Vodacom vir veseluitbreiding in vennootskap met Remgro se CIVH (Community Investment Ventures Holdings).
Covid-19 het egter ’n geweldige impak gehad, veral op Mediclinic se bedrywighede omdat daar ’n groot tekort aan verpleegpersoneel ontstaan het. Intussen het Remgro Mediclinic van die JSE gederegistreer en 'n vennoot gevind in die internasionale skeepsvaartmaatskappy MSC, wat in Switserland gebaseer is.
“Die impak wat hulle vir ons gemaak het in Switserland, was ongelooflik,” het Durand gesê. In Remgro se resultate wat onlangs aangekondig is, was Mediclinic 30% op.
Die Distell-Heineken-transaksie is deur ’n lang regulatoriese proses vertraag, wat onsekerheid in die besigheid meegebring het. Die maatskappy het van wins na verlies beweeg. Durand het gesê hulle glo egter die vennootskap was noodsaaklik om teen internasionale spelers soos AB inBev mee te ding. “Uit ons resultate kan gesien word dat die skip besig is om te draai. Ons is heeltemal gemaklik met die langtermynbesluit wat ons aan die begin baie seer gemaak het.”
Die transaksie met Vodacom moet nog deur Icasa goedgekeur word. Dit sal na verwagting groot waarde ontsluit deur township-internettoegang moontlik te maak.
“Op die oomblik kondig ons nog verliese aan. Ons sit met R17 miljard se skuld in die voertuig want infrastruktuur finansier jy hoofsaaklik deur skuld.
"As die transaksie deurgaan, gaan die skuld met R10 miljard verminder. Ons gaan ook vir die eerste keer in drie jaar kan uitbrei [deur township-veselinfrastruktuur].”
Die ontbyt is ondersteun deur plaaslike sakelui en belangstellendes.
Hy het gesê in perspektief gesien was die vyf jaar sedert Covid’n uiters uitdagende tyd. In 2019 is ’n begin gemaak met ambisieuse planne, maar met die aankondiging van Remgro se resultate in 2020, was die hooflynverdienste af met 61% en hulle moes hul dividend sny met 53%. Hulle het egter deurgedruk en is nie spyt vandag nie.
Ander stappe wat geneem is om te herstruktureer was die ontbondeling van Remgro se belange in eMedia Investments, Grindrod en Momentum. “So ons portefeulje is stadig maar seker om te vereenvoudig sodat mense dit beter kan verstaan. Meer ons 70% van ons aandele is in ongenoteerde beleggings.”
“Ek is nou 58 en ek het ook beplan om op 'n sekere tyd af te tree, maar ek wou nog altyd die maatskappy beter laat as wat ek hom gevind het. Hierdie reis is nog ver van klaar af. Ons is nog nie daar waar ons wil wees met Distell-Heineken nie. Ek dink ons moet nog baie groter en meer effektief raak.
"Vir Mediclinic is daar nog baie groeigeleenthede, veral in die Midde-Ooste. Ook by die CIVH-Vodacom het ons ongelooflike geleenthede as ons nou net die kapitaal in die townshipmark kan uitrol.”
Thys van Zyl aan die woord. Foto's: Alida de Beer
Thys van Zyl van Everest Wealth het gesels oor beleggingsmoontlikhede by die maatskappy en sy insigte rondom die huidige ekonomiese toestande.
Everest Wealth bied beleggingsgeleenthede in ongelyste maatskappye in verskeie sektore. Die maatskappy en Property Connect was die borge van die ontbyt.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’