GEORGE NUUS - Dr. Willie Cilliers (60) is laasweek na 'n verkiesiing tydens die voor-algemene jaarvergadering deur die direkteure van die sakekamer verkies tot voorsitter van die George-sakekamer.
Hy kom in die plek van Brenda Vorster. Vorster is tydens dieselfde verdagering verkies tot ondervoorsitter en Henry Grobler die tesourier.
Vir Cilliers is dit niks nuuts om aan die stuur van George-sakekamer te staan nie. Hy het ook voorheen in die hoedanigheid gedien. Hy is op die oomblik ook voorsitter van die AHI.
Cilliers het Maandag aan George Herald gesê die algemene jaarvergadering van die George-sakekamer, wat op 20 April plaasvind, is 'n belangrike vergadering. Tydens die vergadering sal 'n uitvoerende komitee verkies word.
Sodra die komitee verkies is sal 'n strategiese werksessie gehou word om vir die toekoms te beplan.
Die uitvoerende komitee sal in taakspanne verdeel word in terme van die prioriteite vir die sakegemeenskap. Sterk fokus sal op die implementering van strategiese aksies geplaas word.
George bly naas Kaapstad die grootste ekonomiese vesting in die Wes-Kaap.
George as die grootste dorp in die Tuinroete sal daadwerklike leierskap moet neem.
Dit sal wees om te fokus op ekonomiese groei van George, maar ook om die streek te beïnvloed vir streekekonomiese groei.
Brenda Vorster
Voor Covid-19 het baie van die sakeondernemings al swaar getrek.
Met die koms van Covid-19 van 2020 tot 2022 het dit hulle ook negatief geraak.
Sakekamers het 'n belangrike rol gespeel om die ekonomiese klimaat te help stabiliseer.
Die George-sakekamer gaan onmiddellike stappe neem om die breër sakegemeenskap van George te verenig in 'n besigheidsforum.
Dit sluit die formele en informele sektore in. Die verhoudinge tussen die sakegemeenskap en die plaaslike regering sal ook dringend aandag moet kry. Implementeerbare doelstellings sal gevestig word.
Volgens hom sal die sakevertroue in die groter George herbevestig moet word vir toekomstige ekonomiese investering in die stad.
Cilliers sal graag wil sien dat 'n ekonomiese werksessie tussen die sakekamer en die plaaslike regerings plaasvind om te kyk na die rolverdeling in die ekonomiese situasie.
Een van die grootste uitdagings bly werkloosheid en dit sal aangespreek moet word.
Henry Grobler
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'