Sponsored Content
SAKE NUUS - As jy enige persoon vra om sy/haar grootste bekommernisse in Suid-Afrika vandag te lys, sal misdaad en die moontlike onteiening van grond sonder vergoeding waarskynlik bo aan die lys van 90% van Suid-Afrikaners wees. Behoort grondeienaars bekommerd te wees? Die kort antwoord is "ja".
Die hoofrede waarom mense bekommerd moet wees oor die wysiging van die Grondwet is omrede daar geen sekerheid en detail in die voorgestelde wysiging is nie. Dit is ongelukkig 'n direkte gevolg van die feit dat die voorgestelde wysiging meer polities as wetlik georiënteerd is.
Artikel 25 van die Grondwet beskerm eienaarskap en bepaal dat eiendom slegs ingevolge `n algemeen geldende regsvoorskrif onteien mag word in die volgende gevalle:
(a) Vir 'n openbare doel of in openbare belang; en
(b) Onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag, tyd en wyse van betaling of ooreengekom is deur daardie persone geaffekteer deur die besluit of goedgekeur is deur 'n Hof.
Die artikel gaan dan verder en verskaf sekere spesifieke omstandighede wat in ag geneem moet word in die bepaling of vergoeding billik en redelik is.
Die voorgestelde wysiging aan Artikel 25 van die Grondwet, kortliks, maak voorsiening vir die moontlikheid van onteiening sonder vergoeding waar grond en enige verbetering vir die doeleindes van grondhervorming onteien word. Dit is die essensie van die wysiging. Daar moet egter gelet word dat die huidige proses slegs met die Grondwet handel en is nie op sigself die ja-woord vir die regering om nou met grondonteiening sonder vergoeding te begin nie. Selfs as die wysiging goedgekeur is, moet die Parlement steeds 'n wet van algemene toepassing aanneem.
Die grootste kritiek teen die nuwe politieke dryfkrag agter onteiening sonder vergoeding is dat die regering en regeringsamptenare (soos Ministers) reeds magte het om grond te onteien en dat die Wet op die Herstel van Grondregte van 1994 juis verorden is om voorsiening te maak vir grondrestitusie en verspreiding sedert die geboorte van demokrasie. Dit is gemeensaak dat die huidige grondeise proses gekenmerk word deur ondoeltreffendheid en onreëlmatighede. Voorts dui statistiek aan dat meer as 90% van die eisers in restitusie-eise uitbetaling verkies eerder as die grond self. Dit is egter meer 'n politieke argument as 'n wetlike een.
Dit blyk 'n gegewe te wees dat Artikel 25 van die Grondwet gewysig sal word. Die duiwel sal egter in die detail wees. Een positiewe aspek is dat 'n Hof altyd die laaste sê sal hê om te bepaal of 'n voorgestelde onteieningsgeval binne die raamwerk van die Wet (welke nog opgestel moet word) plaasvind en of sodanige onteiening binne ‘n sekere kategorie van eienaars (soos eienaars wat grond besit en gebruik slegs vir spekulasie doeleindes) val.
Die vraag is dus nie meer hoeveel vergoeding betaalbaar sal wees nie, maar hoe en op watter basis geen vergoeding bepaal sal word. Die Ad Hoc Komitee om Wetgewing te inisieer en voor te stel in terme van Artikel 65 van die Grondwet is verbind om hul taak te voltooi en die bekendstelling van die voorgestelde wysiging van Artikel 25 word verwag teen 31 Maart 2020. Die publiek kon deelneem en kommentaar lewer gedurende Desember 2019 tot Februarie 2020.
Hoewel daar geen twyfel bestaan dat herverdeling van grond moet plaasvind nie, moet die regering uiters versigtig wees in die manier waarop hulle hierdie mynveld benader.
Laastens moet genoem word dat die Suid-Afrikaanse regbank onafhanklik is en 'n bewese rekord het om politici in lyn te hou. Ek is van mening dat dit nie sal verander nie. ‘n Mens kan net hoop dat burgers nie sake in eie hande sal neem, soos in Zimbabwe, sodra die Grondwet gewysig is nie. Sulke aksies word egter deur die regering gekritiseer en eienaars word aangeraai om onmiddellik op te tree sodra die bedreiging van onregmatige grondbesettings 'n werklikheid word. Ek twyfel egter of die regering dit sal toelaat aangesien dit sal lei tot 'n uittog van beleggers wat 'n uiters nadelige uitwerking op Suid-Afrika en sy ekonomie sal hê.
Vir verdere informasie rondom aspekte rakende wetgewing ten opsigte van grondonteiening sonder vergoeding kontak Pieter van der Merwe by (044) 601 9900 of e-pos: office@rgprok.com.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'