Advertorial
SAKENUUS - Op Woensdagaand, 26 Februarie 2025, het die Akademie Reformatoriese Opleiding en Studies (Aros), in die 21ste jaar van sy bestaan, amptelik sy Suid-Kaapse kantoor in George geopen.
Aros is 'n privaat, Christelike hoëronder-wysinstelling wat studente in Afrikaans oplei om die onderwysberoep met kennis en vaardigheid te betree.
Die kampus is in Montanapark, Pretoria, geleë, en die nuwe kantoor in George sal as 'n kontakpunt dien vir huidige en toekomstige studente.
Hier kan studente hulp kry met administratiewe navrae, registrasies, inligting oor beurse en lenings, IT-ondersteuning, of sommer net in Afrikaans kom gesels.
Aros bied die volledige spektrum van onderwysersopleidingsprogramme aan, insluitend die BEd in Grondslagfase, Intermediêre Fase, en Senior/VOO-Fase. Dit beteken dat Aros onderwysers oplei om van graad R tot en met matriek skool te hou.
Verder bied ons ook die Nagraadse Onderwyssertifikaat (NGOS) aan vir studente wat reeds 'n graad het en hulle wil kwalifiseer as onderwysers.
'n Onlangse toevoeging tot ons programaanbod is twee honneursgrade, naamlik 'n BEd Hons in leerondersteuning en een in onderwysbestuur en -leierskap.
Nick Venter en Ansebe Prinsloo is deel van die Aros-personeel, in die voorportaal van die kantoor wat in Courtenaystraat oorkant Hoërskool Outeniqua geleë is.
Afstandsonderrig en groei in die Suid-Kaap
Aros is 'n volledig geakkrediteerde afstands-onderriginstelling by die Suid-Afrikaanse Raad op Hoër Onderwys.
Ons statistieke toon dat studentegetalle landwyd, en veral in die Suid-Kaap, steeds groei, en daarom wou ons graag 'n fisiese kontakpunt in die streek skep.
Ons het studente in George, Plettenbergbaai, Oudtshoorn, Calitzdorp, Riversdal, Heidelberg en Stilbaai.
As afstandsonderriginstelling kan Aros 'n groot aantal studente hanteer. Voornemende studente wat aan die toelatingsvereistes voldoen, kan gerus aansoek doen.
Ons studente is regoor Suid-Afrika versprei en studeer vanaf die gerief van hul huis. 'n Beduidende persentasie van ons studente werk reeds as assistentonderwysers, wat hulle toelaat om 'n inkomste te verdien terwyl hulle studeer.
Aros maak gebruik van 'n e-leerplatform, bekend as e-Klas, wat studente toegang gee tot vooraf opgeneemde lesings en materiaal wat weekliks aanlyn gelaai word.
Interaktiewe aanlyn sessies bied verdere ondersteuning. Die afgelope jare het getoon dat Aros-studente dikwels tot selfstandige leerders ontwikkel wat goed in die onderwysomgewing presteer.
Ervare personeel en toeganklikheid
Aros het 'n span ervare administratiewe personeel met 'n lang geskiedenis van diens aan studente. Ons ontvang gereeld positiewe terugvoer oor die vinnige reaksietyd op navrae.
Die meerderheid van ons akademiese personeel bestaan uit oudonderwysers met meesters- of doktorsgrade.
Aros het sowat 120 permanente personeel en 'n aantal tydelike personeellede in diens.
Aros spog in 2025 met 'n rekordgetal eerstejaars en kan met dankbaarheid aankondig dat 1 300 eerstejaars by die Aros-familie verwelkom is.
Die eerstejaarsgetalle groei jaarliks, en juis in hierdie opsig is Aros as privaat hoëronderwysinstelling trots en dankbaar om te kan sê dat ons elke jaar onder die Here se seën van krag tot krag gaan.
Kontakbesonderhede:
- Adres: Courtenaystraat 21
- Tel: 012 332 3227
- Webwerf: www.aros.ac.za
Aros-studente wat die Suid-Kaap-kantoor se opening bygewoon het, van links: Diaan Gründling, Anica Joubert en Minette Watkins van Mosselbaai en Maryke Calitz van die Paarl. Dr. Francois Joubert is die kantoorbestuurder.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’