Gallery Video
LANDBOU NUUS - Lewayne Fortuin, 'n toegewyde agriwerker van die plaas Kykbo in die Glentana-omgewing, is as Agriwerker van die Jaar in die Tuinroete aangewys. Dit is die derde keer wat hy aan die kompetisie deelneem.
Fortuin het ook die prys gekry vir die beste inskrywing in die afdeling Diereproduksie tydens die Tuinroete-streekgala van die jaarlikse Wes-Kaapse Prestige Agri-toekennings.
Die geleentheid het op Vrydag 8 Augustus by die Oppie Plaas-venue in Waboomskraal plaasgevind.
Benewens sy werk by Kykbo, 'n melkplaas, is Fortuin ook 'n bestaansboer wat op 5 hektaar van sy familie se grond 'n gemengde boerdery met bees, skaap en hoenders bedryf. Hy het boonop 'n plaaswinkel. Dit beteken hy is van voor sonop tot na sononder besig om te boer, want voor hy werk toe gaan, is hy in die donker al by sy diere vir inspeksie en om hulle te voer.
"Ek doen als self, want ek kan nie vir iemand 'n salaris betaal nie; die boerdery is te klein. Sonder my vrou, Irene, sou ek dit nie kon behartig nie. Sy staan bankvas agter my en ondersteun my in als wat ek doen."
Fortuin is gretig om te leer en wanneer die Outeniqua-navorsingsplaas kursusse aanbied, woon hy dit graag by. Hy sing ook in die Gourikwa-mannekoor en sê hy maak tyd vir kerk ook.
Hy het na skool op verskillende plase gewerk en was 'n kort rukkie in die boubedryf, maar het gou besef sy hart staan plaas toe. "Jy kan die plaas nie uit my uithaal nie," sê hy. Hy is nou vyf jaar op Kykbo.
Met sy twee vorige inskrywings het hy eers 'n derde plek in die afdeling Algemene Werker behaal en is toe as Voorman van die Jaar aangewys. Hy is in sy noppies met sy jongste titel. "
Ek is heeltemal onkant gevang deur die toekenning. Dit was 'n droom wat ek wou bereik het, maar ek het dit regtig nie verwag nie. Ek het gedink so iets is net vir die slimmer ouens."
Fortuin gaan later in die jaar teen ander streekwenners in die Wes-Kaapse Provinsiale Agriwerker van die Jaar-kompetisie te staan kom.
Lewayne ontvang sy trofee van raadslid Nompumelelo Ndayi van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit. Ben Booysen, landbou-adviseur in die Tuinroete vir die Landboudepartement, kyk toe.
VIDEO: Lewayne gesels oor sy titel as Agriwerker van die Jaar vir die Tuinroete.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’