TUINROETE NUUS - Die GE Packhouse in George is 'n belangrike skakel in die uitvoer en verspreiding van die Suid-Kaap se kiwivrugte en avokado's.
Die pakstoor is tans met die kiwivrug-oesseisoen uiters bedrywig.
Bestuurder Nadia Smuts sê hulle bedien verskeie bemarkers aan wie plaaslike produsente hulle kiwivrugte lewer, naamlik Freshworld/The Kiwi Connection, Safprol, Jingold, TORRO Fruit, en Core. Daar word noukeurig volgens hulle standaarde verpak.
Eersterangse stoorfasiliteite, noukeurige klassifisering, verpakking en versending
Twee weke voor verpakking begin, word 20 monsters van elke boer se boorde geneem om die suikerinhoud van die vrug, drukking en die droë gewig te meet. Dit bepaal wanneer die boer moet oes en wanneer daar gepak gaan word.
"Wanneer die boer sy vrugte by die pakstoor aflaai, word dit eers geweeg. Dit staan dan vir 24 uur in 'n stoorkamer en rus voordat verpakking kan begin.
Etikettering van elke boks, opgestel volgens die bemarker se instruksies, moet noukeurig gedoen word. Dit bevat belangrike besonderhede soos die oorsprong van die vrugte, gewig en aantal vrugte, klas, variëteit, teikenmark en pakstoorbesonderhede," sê Smuts.
Ná 24 uur word die vrugte gesorteer om enige materiaal soos blare en vrugte wat nie geskik is nie, uit te haal. Klassifisering volgens grootte en gewig vind dan plaas op twee sorteerbane wat die vrugte skei in klas 1 en klas 2 voordat dit in bokse verpak word.
Die geseëlde bokse gaan na 'n koelkamer vanwaar die meeste vrugte versend word na SAFT Atlantic in die Kaap vir verskeping.
Lees 'n verwante artikel: Kiwivrugte van George is van topgehalte
Deel van die span by GE Packhouse, van links: Corlette De Jager, Rolene van Rooyen, Dorreti Pedro en Charlene Stoffels.
Sortering begin.
Inneke de Jong van Freshworld besig met toetse op kiwivrugte by GE Packhouse.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’