Hierdie ervare koor, wat deur die jare as wêreldklas bestempel is, werk tans aan 'n splinternuwe repertorium vir hul debuutkonsert wat in Julie bekendgestel sal word.
Nuwe werke sluit 'n rits opwindende klassieke en kontemporêre werke, Renette Bouwer se verwerking van Soos 'n Wildsbok; The Ballad of Jimmy Brown; verskeie agtstemmige verwerkings van Jan-Erik Swart; en Homeless van Ladismith Black Mambazo, in.
Benewens hul debuutkonsert, wat belowe om 'n glansgeleentheid te wees, gaan die Mannekoor in Augustus saam met die top Pro Cantu Jeugkoor, onder leiding van Leon Starker optree. Hulle beoog ook om deel te neem in die ATKV Animato koorkompetisie in September vanjaar. Groot planne vir 2013 en 2014 word beraam met 'n KKNK-konsertreeks asook 'n internasionale konserttoer na Europa.
'n Nuwe bestuur is onlangs deur lede verkies om die koor in sy toekomstige planne te ondersteun: Lede van die bestuur is: Tjaart van der Walt (voorsitter), Charl Louw (sekretaris), Alwyn van Rensburg (tesourier) en Bes Bezuidenhout.
Jan-Erik Swart, wat oor die afgelope vyf jaar bekendheid met sy direksie van die bekroonde Suid-Kaap Kinderkoor verwerf het, beoog om volgende jaar sy doktorsgraad in koordireksie aan te pak.
Voornemende sangers (tenore en basstemme) van alle ouderdomme, gemeenskappe, en ervaringsvlakke wat sou wou aansluit by die Mannekoor, word genooi om die dirigent, Jan-Erik Swart by 084 645 9320 te kontak om 'n oudisie te reël. Selfs talentvolle seuns in die hoërskool kan aansluit. Oudlede kan ook by die Mannekoor se aktiwiteite betrokke bly deur hul webtuiste by www.georgemannekoor.co.za te besoek, of om by hul Facebook-blad aan te sluit.
Kunstenaars en organisasies wat fondsinsamelingskonserte of optredes wil reël, kan die Mannekoor by 084 645 9320 bespreek.
