Drie en veertig passievolle lesers het Vrydagaand om 17:30 in taxi’s vertrek vanaf Thesen-eiland op ‘n toer na vyf ultra-luukse huise waar uitgesoekte skrywers gewag het om verborge feite rondom hul skryfsels en skryfprosesse met hul gaste te deel.
Die eerste stop was The Pilot’s House bo op die Knysna-koppe waar die hele groep ontvang is deur filmmaker Michael Chèze en meesterbakker Markus Färbinger. Chèze se kort film, early hours, oor île de païn, die bekende café-bakkery op Thesen-eiland, is oor ‘n bordjie sushi en ‘n glasie Chardonnay vertoon. Die film bevat geen stemme of musiek nie, maar net die regte, klanke, beeld en atmosfeer van ‘n bakkery in die nagtelike ure. Die slottoneel kyk Färbinger en sy vennoot, Liezie Mulder af waar hulle teen dagbreek saam ‘n goeie koppie koffie en vars brood sit en eet voordat die café sy deure oopgooi vir die dag. (Ek gaan verlof neem binne die volgende maand om op ‘n weeksoggend my elmboë op daai tafel te gaan neersit. So naby my verjaarsdag bederf ek dalk nog myself ook met hulle volledige île de païn: bread-boek en -DVD oor die kuns van broodbak.)
Vir die res van die reis het die groep verdeel en is die passasiers een taxi op ‘n slag tussen die oorblywende vier wonings in die Pezula Private Estate geroteer vir smulhappies, wyn en boekpraatjies.
Die Afrikaanse groep saam met wie ek in ‘n taxi beland het en die hele aand rondbeweeg het, kon hulself moeilik wegskeur by Anoeschka von Meck wat oor haar nuutste boek, Die Ontwaking, gepraat het, maar net so baie vrae oor die veelbekroonde Vaselientjie moes antwoord.
Die volgende stop by Daleen Matthee se dogter, Hillary, het ook heeltemal te min minute gehad vir die gaste wat sommiges al selfs op Daleen se spoor gaan loop het in die bos.
Stanley Trollip is die een helfte van die skrywersnaam ‘Michael Stanley’ en het 25 jaar lank in Amerika gewoon en klas gegee. Michael Sears, die ander helfte, is ‘n Johannesburger. Stanley woon deesdae in Knysna en het die woordreisigers meer vertel oor sy liefde vir Botswana waar hulle ‘Detective Kubu’-boeke - die derde is pas gepubliseer - afspeel. Speurder Kubu se wel en wee is ook in Frans en Italiaans vertaal. "Hoe op aarde skryf twee mense op twee kontinente saam aan ‘n boek?" wou almal weet. "Dit was regtig wonderlik om ten spyte van 10 000 km tussen ons, saam met ‘n vriend ‘n boek te skryf," verseker Stanley. "Ons sou storielyne bespreek en dan sê een spontaan: ‘ek weet iets van die onderwerp; ek sal daardie hoofstuk skryf’. Daarna is dit maklik nog twintig keer weer verander totdat ons albei tevrede was." Aangesien die twee vriende gereeld saam vakansie gehou het in Botswana, was beplanning en koukus darem nie net ‘n langafstand proses nie.
Die laaste stop vir soetgoed en koffie was by Keith Cornelis-Britz wat vertel het hoekom dit 26 jaar geneem het voordat sy Big Dan’s Sophie gepubliseer is, en toe wel in Engels en nie die oorspronklike Afrikaans nie. Hierdie laatkind van Cornelis-Britz was op die kortlys vir die Europese Unie se letterkundeprys, en is nou ook benoem vir die Sunday Times se Alan Paton-toekenning waarvan die kort-lys binnekort bekendgemaak word. Tog het groot plaaslike uitgewers jare lank hul neuse opgetrek vir hierdie storie oor die wewenaar-houtkapper wat lief word vir die gesin se bruin kinderoppasser en met haar trou. Die verhaal speel hom ook af in die houtkappersgemeenskap in die Knysna-bos.
Delicious Word Journey was deel van die Knysna-letterkundefees wat aangebied is deur Pam Golding Eiendomme, en die opbrengs van die aand gaan alles na die Knysna Education Trust wat streef om kinders uit agtergeblewe gemeenskappe ‘n deeglike, geïntegreerde voorskoolse opvoeding te gee sodat hulle op gelyke vlak sal kan meeding wanneer hulle laerskool toe gaan.
.jpg)
Die ‘Afrikaanse bussie’ se groep saam met Daleen Matthee se dogter, Hillary (middel agter).
ARTIKEL EN FOTO'S: MANDI BOTHA
Nog foto's hier.