VERMAAK NUUS - Die Blanco Vrouelandbouvereniging (VLV) bied op Saterdag 14 Februarie 'n modevertoning en skoonheidsgeleentheid by die NG Kerk Blanco aan.
Die geleentheid, Valentyns Red Romance, beloof om 'n stylvolle en feestelike ervaring te wees en VLV Blanco bied dit aan in samewerking met Loka, ACE Models en Kryolan Professional Make-Up. Gaste kan uitsien na 'n vertoning met uitrustings van Mej. Suid-Afrika-semifinalis Stellie Taute, wat elegansie en romanse in die ontwerpe uitbeeld.
Die verrigtinge begin om 10:30 vir 11:00. Kaartjies kos R150 per persoon. Die kaartjie sluit tee en koffie met heerlike vingerhappies, asook bykomende aanbiedings soos grimeerdemonstrasies, gelukstrekkings en geskenkbewyse in.
Alle vroue word uitgenooi om die verrigtinge by te woon en te deel in 'n feestelike Valentynservaring met mode, skoonheid en 'n gesellige kuier.
Vir besprekings of navrae, kontak die voorsitter, Marietjie Schaaf, by 072 618 0515.
Nuwe lede welkom
Die tak nooi ook vroue, veral jong vroue, om deel te word van die organisasie.
Die VLV is gemik op die persoonlike groei van sy lede en deelname aan gemeenskapsdiens. 'n Interessante maandelikse program word aangebied waar lede praatjies, demonstrasies, debatte, uitstallings, besprekings, asook georganiseerde opvoedkundige uitstappies kan geniet.
Daar word op verskillende temas gefokus, naamlik kuns en handwerk, gesondheid, onderwys en kultuur, leefstyl, openbare sake, en landbou en tuinbou.
Tydens 'n uitreik by Laerskool George-Suid waar Blanco VLV-lede knypkoekies gemaak het, van links: Alice Burt, Marietjie Schaaf (voorsitter), Marie Joubert en Hannetjie Langenhoven. Foto verskaf
"Die Blanco-tak is 1988 gestig, en een ding staan beslis uit - die unieke handvaardighede wat ons lede leer, van blommerangskikking, bak en preservering, tot tuinbou, borduur-werk, breiwerk, hekelwerk en nog meer," sê Schaaf.
"Vanjaar is ons tema 'Ons krag lê in spanwerk' en ons gaan fokus op die projek 'Van tuin tot tafel' waar dit vir ons oor die hele proses van groei tot geniet sal gaan."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’