Update
GEORGE NUUS - Die wagtyd is byna verby. Emmaüs Beskermde Werksentrum maak Saterdag 4 Julie om 16:00 die eerste bankbalans van sy Krag van vier-fondsinsamelingsveldtog bekend.
Die veldtog is daarop gemik is om binne vier maande R4 miljoen in te samel om die organisasie se fasiliteite op te gradeer en sy diens aan meer as 130 volwassenes met verstandelike en fisiese gestremdhede te versterk.
Die konsep is eenvoudig: mense word gevra om R40 te skenk en daarna vier ander uit te nooi om dieselfde te doen.
Elke nuwe skenker nooi weer vier mense, met die doel om 'n kettingreaksie van omgee te skep wat vinnig deur die gemeenskap versprei.
Emmaüs het verlede maand die veldtog van stapel gestuur en sê die ondersteuning uit die gemeenskap was reeds bemoedigend. Die eerste bankbalans sal 'n aanduiding gee van hoe die veldtog tot dusver gevorder het.
Die organisasie doen al meer as 40 jaar stilweg sy werk in George en bied daagliks sorg, struktuur en waardigheid aan volwassenes wat weens hul gestremdhede nie in die oop arbeidsmark kan werk nie.
Vir baie van die begunstigdes is Emmaüs nie net 'n dagsentrum nie, maar 'n tweede tuiste waar hulle betekenisvolle werk verrig, vaardighede ontwikkel en deel van 'n ondersteunende gemeenskap vorm.
Fondse wat deur die veldtog ingesamel word, sal gebruik word vir dringende opgraderings aan die fasiliteit, waaronder die opknapping van die kombuis en leefareas, herstelwerk aan die dak, die bou van 'n stoorkamer en die verbetering van vervoer en ander infrastruktuur.
Emmaüs nooi die publiek uit om Saterdag om 16:00 die aankondiging van die eerste bankbalans op die Emmaus: Krag van Vier-Facebookblad te volg en deel te word van 'n projek wat daarop gemik is om 'n blywende verskil in die lewens van sy inwoners en dagbegunstigdes te maak.
Vorige artikels:
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’