Video
GEORGE NUUS - Die organisasie gaan stilweg voort met hul werk sonder enige groot vertoon en bied sorg aan talle volwassenes met verstandelike gestremdhede in George.
Die waarde en toewyding wat hulle die afgelope 40 jaar tot dié gemeenskap toevoeg is onmeetbaar en hulle vra selde iets in ruil. Emmaüs Beskermde Werksentrum het egter nou George se hulp dringend nodig.
Die sentrum doen 'n beroep op die plaaslike gemeenskap om saam te staan vir 'n fondsinsamelingsinisiatief wat daarop gemik is om die toekoms en die daaglikse lewens van meer as 130 volwassenes met gestremdhede te verbeter.
Dié volwassenes is almal tussen 18 en 60 jaar oud. Hulle is te oud vir skool en te jonk vir pensioen en word dikwels uit die formele arbeidsmag uitgesluit.
Krag van vier-veldtog
Deur die Krag van vier-veldtog hoop die organisasie om binne vier maande, van Julie tot Oktober, R4 miljoen in te samel deur 'n eenvoudige maar kragtige ketting van gee te skep.
Die konsep is eenvoudig: een persoon skenk R40 en nooi dan vier ander mense uit om dieselfde te doen.
Elkeen van daardie vier gaan dan voort met die ketting, wat uitkringende gevolge skep wat vinnig deur die gemeenskap kan groei.
Emmaüs is 'n beskermde werksentrum en tehuis wat sorg, struktuur en waardigheid bied aan volwassenes met geestelike en fisiese gestremdhede wat nie in die oop arbeidsmark kan werk nie. Die fasiliteit huisves sowat 48 permanente inwoners en ondersteun daagliks ongeveer 90 dagbegunstigdes, en bied 'n veilige en koesterende omgewing waar individue kan leer, groei en behoort.
Vir baie begunstigdes is Emmaüs nie net 'n sorgfasiliteit nie, maar 'n huis en 'n gemeenskap.
Dit bied daaglikse maaltye, terapeutiese stimulasie en gestruktureerde programme wat daarop gemik is om lewensvaardighede, onafhanklikheid en selfbeeld te bou.
Deur betekenisvolle werksgeleenthede neem begunstigdes ook deel aan die vervaardiging van handgemaakte produkte soos houtwerk, opvoedkundige blokke, pasgemaakte klerehangers en spysenieringsdienste, alles met sorg en trots vervaardig.
Emil Wambach, 'n personeellid, sê hulle streef daarna om 'n selfonder-houdende omgewing te skep.
Dringende opgraderings nodig
Die fondse wat deur die Krag van vier-inisiatief ingesamel word, sal direk aangewend word vir noodsaaklike opgraderings aan die fasiliteit.
Dit sluit die opknapping van die kombuis en leefareas, herstelwerk aan die dak en 'n algemene vernuwing van die geboue in om 'n meer moderne en waardige omgewing te skep.
Planne sluit ook die bou van 'n toege-wyde stoorkamer in om geskenkte items en materiaal behoorlik te stoor, asook belegging in betroubare vervoer en langter-mynverbeterings wat sal verseker dat die organisasie sy werk veilig en doeltreffend kan voortsit.
Vir meer inligting, volg die Emmaus: Krag van 4-Facebook-blad of skakel 083 635 7873.
KYK: Jeff Ayliffe het Emmaüs besoek.
BO: Die organisasie wil graag hulle huidige kombuis opgradeer.
ONDER: Die dak het dringend verf nodig.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’