Update
GEORGE NUUS - Die pa en sy twee seuns van Mosselbaai wat daarvan aangekla word dat hulle in Januarie 'n sakeman, Jannie Venter, by sy ingenieursfirma in George aangerand het, het Dinsdag 17 Julie in die George-streekhof verskyn om 'n verhoordatum vas te stel.
Die saak teen Ivan Kent (30), sy pa, Lionel (55), en sy broer Divan (27) is voorlopig tot 13 Augustus uitgestel.
Ivan het by Venter gewerk ten tyde van die aanval. Die bakleiery wat tot die aanranding gelei het, het ontstaan omdat Venter na bewering Ivan vir drie maande nie betaal het nie.
Ivan het ná die aanranding in Venter se wit Isuzu-bakkie gespring en van die toneel in die rigting van Mosselbaai gejaag. Aanklagte teen hom is onder andere poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, roof met verswarende omstandighede, motordiefstal en roekeloos en of nalatige bestuur.
Sy pa en broer het met die maatskappy se Toyota-bakkie gevlug. Hulle staar aanklagte van poging tot moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer, in die gesig.
Al drie is kort na die voorval in hegtenis geneem. Lionel en Divan is in Februarie elk op borgtog van R500 vrygelaat en Ivan in April.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'