Dit is volgens dr. Willie Cilliers, voorsitter van die George Sakekamer wat vanjaar vir die eerste keer gasheer speel vir die jaarkongres van die Afrikaanse Handelsinstituut.
"Dit is verblydend om te sien hoeveel besoekers hier is. In die eerste uur is 80 besoekers by die ingang aangeteken," het hy gesê en ook sy tevredenheid uitgespreek met die kwaliteit van die stalletjies.
Die ekspo is oop vir die publiek en toegang is gratis. Daar is 50 uitstallers van oor die streek. Benewens die ondernemings wat uitstal, kan besoekers ook aandoen by stalletjies van liggame soos die Independent Development Corporation (IDC), Small Enterprise Development Agency (Seda), die CCMA, Business Partners, SA Inkomstediens, en Wes-Kaapse Besigheidsontwikkelingsdepartement.
Cilliers het gesê hy is baie opgewonde oor wat nog voorlê. "Hierdie is 'n besigheidsweek. Ons wil besigheid praat."
Hy is passievol oor die kweek van entrepreneurs van jongs af. In 'n informele gesprek met die George Herald het hy gesê alle Suid-Afrikaners - die regering, onderwysdepartement, opleidingsliggame en ouers - sal hulle uitkyk rondom werk en besigheid moet verander as die land 'n gesonde en volhoubare ekonomie wil hê.
Vir eers moet regeringsamptenare soos entrepreneurs begin dink. Dan moet ouers en onderwysers reeds op skool die regte ingesteldheid en verantwoordelikheid by kinders kweek. "Die dag as hulle met skool klaar is, moet hulle reeds besluit het dat hulle besigheidseienaars gaan word."
'Trotse oomblik'
Pieter Pepler, bestuurder in die burgemeester se kantoor, het by die ekspo gesê dis 'n "grootse geleentheid en trotse oomblik" vir George om 'n kongres van hierdie aard te kan aanbied.
"Daar is 'n baie sterk vennootskap tussen die uitvoerende burgemeester en die voorsitter van die Sakekamer begin wat net sterker sal groei. Dit is wonderlik om met so 'n presterende Sakekamer te kan saamwerk.
