Só het 'n paar graad 10-leerders van George Hoërskool verlede Donderdag aan die George Herald gesê waar hulle klas geloop het onder bome op die skoolterrein. Volgens die leerders duur hierdie situasie nou al vir langer as 'n maand omdat agt van die skool se opslaanklaskamers onveilig verklaar is.
Leerders van alle grade en alle vakkeuses, behalwe drama en kuns, word geaffekteer.
Die George Herald verneem die skool sukkel sedert Februarie 2013 om die probleem op te los, maar sonder sukses. Hulle het toe al 'n ingenieur ingekry wat die klasse onveilig verklaar het. Verslae is al geskryf oor die toestand van die klaskamers en foto's aangestuur na die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), maar op dowe ore geval.
Die skool doen reeds die afgelope 10 jaar herstelwerk aan die opslaanklasse, wat ouer as 30 jaar is, maar die agteruitgang is so gevorderd dat die klaskamers nou onherstelbaar is.
Stukke plafon is weg en daar is gate in vloer. Die mure het al weggeskuif van die vloer en mens kan daardeur sien. Van die klaskamers het ook gesak en dit word in die lug gehou met plaveistene in plaas van staalpote. Binne die klas voel die vloer onstabiel en met 'n gemiddelde klas van 50 plus leerders wat elk tussen 50 kg en 60 kg weeg, is dit bykans 3 ton wat gedurende die sewe periodes op die vloer beweeg.
Leerders soek klasse
Danielle Bergman (16) een van die skool se top-10-leerders sê haar ma dreig om haar uit die skool te haal. "Ons is geregtig op kwaliteit onderrig om ons volle potensiaal te bereik. As dit so aangaan, gaan ons punte ook agteruitgaan," sê Danielle. Sy sê ook dat tydens die afgelope eksamen die skool die eerste paar uur van die skooldag afgestaan het aan studiesessies, tyd wat baie van die kinders gebruik het om te leer.
"Baie van die kinders se omstandighede by die huis is van so 'n aard dat hulle nie daar kan leer nie, en het hulle juis die uur of twee voor klas gebruik om te leer." Jennilee Payle (16) sê hulle kan nie konsentreer gedurende lesse nie, want daar is te veel geraas van voertuie en mense in die pad.
"Daar is nie eens 'n bord waarop die meneer inligting kan skryf nie. Ons het nie tafels nie en moet ongemaklik met ons boeke op ons skoot sit." Nog 'n topleerder, Danovan Nikole (15) sê die situasie is ontwrigtend. Hy het versoek dat die onder-wysdepartement intree.
"Die leerders het vroeër self probeer inspring deur familielede wat vakmanne is om hulp te vra." Hy sê 'n familielid van hom sou die elektriese bedrading en ligte gratis regmaak terwyl nog 'n familielid van 'n ander leerder verf sou skenk.
Twee nuwe mobiele klaskamers vir 2015
Paddy Attwell, woordvoerder van die WKOD het by navraag bevestig dat hulle bewus is van die verval van die opslaanklaskamers en het gesê daar sal teen die begin van die nuwe skooljaar twee addisionele mobiele klaskamers opgerig word.
"Die departement het in Julie vanjaar twee mobiele klaskamers by die skool opgerig en oorweeg dit om nog aan te bring, maar dit kan nie oornag gebeur nie."
Attwell sê die departement se hoofinspekteur van werke in die streek het op 2 September 'n inspeksie by die klaskamers gedoen en dit onveilig verklaar. Nog 'n inspekteur van die departement van arbeid het verlede week tot dieselfde slotsom gekom ná sy inspeksie.
Op 'n vraag of daar planne is om die klaska-mers te vervang het Attwell gesê amptenare van hul distrikskantoor het verskeie opsies met die skool bespreek.
"Die grootste uitdaging sal wees om al die leerders tydens die vierde kwartaal te akkommodeer. Leerders woon die skool tans by in skofte terwyl hulle toetse skryf. Sowat 330 leerders het vroeër die klasse gevul en na die Oktober-vakansie sal sowat 347 matrieks die skool verlaat en sal die spasie meer as 300 leerders in ander klaskamers kan akkommodeer."
Intussen help die departement die skool ook met die 2015-toelatings, aangesien die skool reeds oorvol is. Die skool het tans 1 631 leerders terwyl dit ontwerp is om 800 te akkommodeer.
Ouers bekommerd oor veiligheid
Bekommerde ouers het Dinsdagaand in 'n volgepakte skoolsaal met lede van die beheerliggaam vergader oor die veiligheid van hulle kinders en die moontlikheid dat hulle kinders weens die situasie in ander klasse ingeprop sal word wat reeds oorvol is. Van die voorstelle deur ouers aan die beheerliggaam was dat hulle saam staan en die skool sluit, geen klasse, geen onderrig. Ander ouers het gevra vir deursigheid in so 'n besluit, veral met die komende matriekeindeksamen wat op hande is en het gewaarsku dat "watter pad ook al die ouers kies, dit nie die kinders verder benadeel nie".
Daar was ook ouers wat aangedui het, dat as die probleem nie teen 13 Oktober, wanneer die skole heropen, opgelos is nie, hulle nie hulle kinders terug skool toe sal stuur nie.
Gisteroggend het die ouers met amptenare van die plaaslike distrikskantoor by die skool vergader waar hulle 'n 24 uur ultimatum aan die departement gestel het om met antwoorde en haalbare oplossings na hulle terug te keer.
Leerders het die afgelope winter koud gekry in die klaskamer waar die muur van die dak af weggeskuif het.
Danielle Bergman (16) een van die skool se top-10-leerders se ma, Debbie, dreig om haar uit die skool te haal as die situasie by die skool nie verander nie. Foto's: Lizette da Silva
Van die 30-jaar-oue opslaanklaskamers by George Hoërskool word deur plaveistene in die lig gehou nadat meeste van die staalpenne deurgeroes het.
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'