Die jongste Outlander het reeds twee gesogte internasionale toekennings ontvang.
Die Mitsubishi het onlangs in die VSA erkenning ontvang as die mediumgrootte SNV/Crossover met die laagste geprojekteerde eienaarskapkoste oor vyf jaar. In die berekening, wat gedoen is deur die gesaghebbende Kelley Blue Book, is die verwagte reswaarde na vyf jaar in ag geneem, asook die geraamde herstel- en instandhoudingskoste en brandstofverbruik.
Die 2014 Outlander is ook aangewys as die Top Safety Pick+ Rating van die versekeringsinstituut vir snelwegveiligheid in die VSA. Die toekenning is gedoen nadat die Outlander die beste in sy klas gepresteer het in 'n reeks botstoetse. Die nuwe model het ook uitstekend gevaar in botstoetse in Europa en Australië, waar dit vyf sterre in NCAP sowel as in die Australiese ANCAP behaal het.
Imperial het in Julie 2011 die lisensie verkry om Mitsubishi-voertuie plaaslik te versprei. Dit is gevolg deur die bekendstelling van verskeie nuwe modelle in Suid-Afrika, waaronder die topverkoper-ASX, 'n kompakte SNV en die enkelkajuit-Triton-bakkie.
Die sewe-sitplek Outlander het vroeg in 2013 'n omvattende reeks modelveranderinge ondergaan. Suid-Afrika kry nou die nuwe Outlander met bykomende veranderinge vir die 2014-modeljaar.
Die eerste van die Outlander-modelle is die weelderige GLS Exceed. Hierdie SNV word aangedryf deur 'n viersilinder-petrolenjin van 2,4 liter, wat 123kW by 6 000 r/min en 222Nm wringkrag by 4 100r/min ontwikkel.
Volgens Mitsubishi verbruik die voertuig 8,2 liter per 100 km op die gekombineerde siklus en sy emissies is 192g/km. Die maksimum-snelheid is 195km/h en die GLS Exceed het 'n sleepvermoë van 750kg.
Die Outlander is toegerus met 'n veelkeuse-vierwieldryfstelsel (4WD), wat elektronies beheer word. In die ECO-modus gebruik die stelsel tweewieldryf (2WD) in normale bestuurstoestande, maar wanneer 'n wiel begin gly op 'n los of gladde oppervlak, word 4WD outomaties gekies. Die stelsel het drie modusse, 4WD ECO, 4WD AUTO en 4WD LOCK-UP.
Die LOCK-UP-, of sluitmodus, vergroot wieltraksie en verseker die maksimum-vastrap. Verskillende modusse kan gekies word met 'n beheerknop. Die 4WD-stelsel is soepel, gebruikersvriendelik en dit bied besondere vermoë in veldrytoestande.
Die stuurstelsel is 'n tandstang-en-kleinrat-stelsel met elektriese kragstuurhulp. Die stuurwiel kan op, af én teleskopies verstel word.
Al die modelle is toegerus met 18"-allooiwiele met 225/55R18-bande en die Outlander het 'n volgrootte noodwiel.
Die nuwe Mitsubishi is ruim met baie pakplek vir sy klas. Daar is gerieflike sitruimte vir sewe insittendes in drie sitplekrye. Die tweede en derde rye sitplekke kan platgeslaan word. Toegang tot die derde sitplekry is maklik danksy die eenvoudige vorentoevou-aksie van die agterste sitplekke.
Die hoogtepunt van die jongste Outlander-modelreeks is die uitstekende vlak van die standaardtoerusting. Dit sluit in 'n dubbelsone, outomatiese lugversorging, sleutelvrye bedryf, 'n raakskermklankstelsel, snelheidsbeheer, veeldoelstuurwiel, parkeerafstandbeheer, Bluetooth met handvrye stembeheer vir 'n selfoon, 'n USB-sok en 'n dekseil vir die groot bagasieruim.
Die sewesitplek-Outlander spog ook met leersitplekke (met verhitting vir die bestuurder en die voorste passasier se sitplek), 'n klankstelsel met nege luidsprekers, trukamera, glassondak en elektries-beheerde bakklap.
Mitsubishi se ingenieurs het die Outlander toegerus met sewe lugsakke, ABS-sluitweerremme met elektroniese remkragverspreiding (ERV), aktiewe stabiliteit- en traksiebeheer (ASTC), wat remhulp (BA) en heuwelwegtrekhulp (HAS) insluit.
Ander veiligheidseienskappe sluit in: liggevoelige kopligte met outomatiese hoogtestelling vir beter nagsig, kopligwassers en voorste misligte, reënsensitiewe ruitveërs, sentrale sluiting met 'n alarm en immobiliseerder en ultrasoniese bewegingsensors en ISOFIX-hegpunte vir kinderstoeltjies.
"Nog weergawes sal bekend gestel word sodra hulle vir ons streek beskikbaar word," sê Wynand Pretorius, hoofbestuurder van Mitsubishi Motors in Suid-Afrika.
"Dit sluit dieselmodelle in, asook die wêreld se eerste produksie-inprophibried, wat die Japanse Motor van die Jaar-Innoveringstoekenning gewen het."
Kopers het 'n keuse van vyf kleure: Cool Silver Metallic, Titanium Grey, Black Mica, Warm White Pearl en White Solid. Daar is ook drie verskillende opsies vir die instrumentpaneel- en deurbeslag, naamlik hout, silwer of swart.
Die Mitsubishi Outlander GLS Exceed kos R429 900 is word gedek deur 'n waarborg van drie jaar of 100 000 km en 'n diensplan van vyf jaar of 90 000 km. Die voertuie moet elke 15 000 km versien word.
FOTOGALERY
.jpg)
Die jongste Outlander het reeds twee gesogte internasionale toekennings ontvang.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete Klein-Karoo nuus'