Annchen Ferreira (31), 'n dieetkundige en oud-Kwagga, is op 26 Mei 2013 na bewering deur haar obsessief jaloerse vriend, Clive Bailey, toe 43, in Milnerton Ridge in Kaapstad in die woonstelkompleks waar albei gewoon het, verwurg. Annchen en Bailey, wat vir 'n sekerheidsmaatskappy gewerk het, se woonstelle het aanmekaar gegrens.
Geen vlugkans
Die aand van die moord het Bailey glo Ann-chen se woonstelvenster stukkend geskop. Sy het probeer vlug, maar hy het haar in die binnehof vasgekeer en, ten spyte van ander inwoners wat desperaat probeer keer het, geslaan, geskop en uiteindelik dood gewurg.
Die volgende dag het hy homself aan die polisie gaan oorgee.
Hy is op 13 Augustus deur die Wes-Kaapse regter-president John Hlophe op appèl borgtog toegestaan, nadat landdros Nikki Oakes eers borg van die hand gewys het. Die ondersoekbeampte adjudant-offisier Lewis Weston het voor landdros Oakes getuig dat Bailey aan hom gesê het dat Annchen die verhouding verbreek het en dat hy nie die verwerping kon hanteer nie. Bailey is deur Hlophe vir twee weke sielkundige waarneming na die Kenilworth-kliniek verwys waarna hy in Mowbray moes gaan woon aangesien hy geen kontak met die ander inwoners van die woonstelkompleks in Milnerton Ridge mag hê nie.
Annchen het as diabetiese opvoedkundige by Roche Diagnostics gewerk en, self 'n tipe 1-diabeet, dokters gehelp om diabete bekend te stel aan insulienpompe en ondersteuning daarmee te gee.
Vroue gewaarsku
'n Gebroke Ona Ferreira, 'n werknemer by Anna se Boetiek in Yorkstraat, het beaam wat Weston getuig het en vertel dat haar dogter kort voor haar dood gesê het sy was bang om die verhouding te verbreek. "Sy het nie geweet hoe hy sou reageer nie. Annchen het vertel dat hy as kind gesien het hoe sy pa sy ma verwurg en dat hy verwerping uiters sleg hanteer. Hy het na sy ma se dood glo in 'n kinderhuis grootgeword."
Ona probeer ter wille van haar eie welstand haar dogter se moordenaar vergewe, maar sê dat dit baie moeilik is. "Sy was 'n pragmens en kind en dit is totaal onwerklik om te dink dat sy so kon sterf." Sy pleit dat vroue moet seker maak hulle weet wie en wat die persoon werklik is voor hulle betrokke raak in 'n verhouding. "Daar is op die oomblik baie hoëprofiel sake waar 'n jong vrou aan die hand van haar eggenote of kêrel gesterf het. Ons liefste dogter se dood het nie die hoofopskrifte gehaal nie, maar vir ons is dit net so hartverskeurend en onbegryplik. Ons wil ook antwoorde en berusting hê." Sy sê daar is spesialis raadgewers en persoonlikheidskenners beskikbaar wat vroue kan help om die regte besluite te neem. "Moet asseblief nie ook 'n statistiek word nie."
Passievol
Annchen se pa, Johan sê sy dogter se twee groot passies in die lewe was dans en om uit te reik na haar medemens. "Sy het in haar skooljare dansopleiding by Christelle Smit ontvang en na matriek by Hoërskool Outeniqua in 2001 het sy op Stellenbosch gaan studeer. Sy het toe haar eie dieetkunde praktyk in Kaapstad oopgemaak, maar later verlief geraak en Oudtshoorn toe getrek en getrou. Omdat sy self verwerping in haar huwelik ervaar het was dit kortstondig van aard en sy is in 2011 terug Kaap toe na sy 'n fantastiese werksaanbod by Roche gekry het. Ek was saam met haar om te help woonstel soek. Min wetende wat daar met haar sou gebeur."
Die Ferreiras het ook 'n seun, Ruaan wat by Golfer's Club in George betrokke is.
Dankie
Die egpaar het die gemeenskap vir al die ondersteuning bedank. "Baie, baie dankie aan vriende wat ons gedra het deur gebed, arms vol liefde en ons toelaat om te rou. Dankie vir die pragtigste bosse blomme wat ons so baie aan Annchen laat dink - sy was ook 'n omgeemens wat die ekstra myl vir mense in nood geloop het. Seën vir julle almal."
Bailey het verlede Vrydag 23 Mei weer in die hof verskyn, maar sy prokureur was afwesig en die saak is vir die soveelste keer uitgestel.
'n Verhoordatum sal hopelik met Bailey se volgende verskyning in die Kaapse Streekshof op 27 Junie vasgestel word.

Gelukkiger dae... Ona en Johan Ferreira van George het jong vroue gevra om baie versigtig 'n mansvriend te kies.

Clive Bailey word aangekla van die moord op sy destydse vriendin, Annchen Ferreira.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'