Video
GEORGE POLITIEK-NUUS EN VIDEO - Die besluit van die Vryheidsfront Plus om Peter Marais as sy premierskandidaat in die Wes-Kaap aan te wys is geneem op grond van sy "kundigheid en ervaring".
Dit is die boodskap van Pieter Groenewald, leier van die party. Hy het die party se besluit om Marais as premierskandidaat aan te wys, in 'n telefoniese onderhoud met George Herald verdedig.
Na die aankondiging is gevra waarom bestaande leiers in die party, waaronder bruin leiers, oor die hoof gesien is. Die name van veral twee VF Plus bruin leiers in die Suid-Kaap, Elroy Baron van die Mosselbaaise stadsraad en Johannes Hartnick, onderburgemeester van Hessequa, is genoem.
Groenewald het benadruk dat daar geen formele ooreenkoms tussen Marais en sy Bruin-Belange-Beweging en die VF Plus is nie. Volgens hom deel die twee instansies strewes.
"Die belangrikste is die reg op selfbeskikking en minderhede."
Marais het by die VF Plus aangesluit oor die party se strewe na selfbeskikking en sy Christelike waardes.
Kyk 'n video hieronder:
Groenewald het gesê die VF Plus is 'n meriete party. Marais is aangewys as premierskandidaat omdat hy in dié stadium die mees ervare en kundigste van al die premierskandidate van enige opposisie party is. Volgens Groenewald is dit in elk geval niks nuuts om kundiges van buite 'n party te betrek nie. Ander partye doen dit ook. Marais sal beslis die nommer een posisie op die VF Plus se kandidaatlys vir die provinsiale wetgewer wees.
Die VF Plus glo as gevolg van Marais se bekendheid en die feit dat hy opstaan vir die regte van bruin mense, dit meer bruin stemme sal lok. Die party wil nie die ANC of 'n koalisie van die party met die EFF in die provinsie aan bewind sien nie. Ook nie 'n DA-regering nie. Die VF Plus is ten gunste van 'n DA/VF Plus koalisie.
Adv. Gert van Niekerk, VF Pus-lid in die George-stadsraad, het gesê dit blyk dat die aansluiting van die BBB 'n groot sukses is. Mense sluit in hul "duisende" by die VF Plus aan. Volgens van Niekerk word 'n nuwe voertuig geskep vir selfbeskikking. Vir die eerste keer in die geskiedenis het bruin en wit hande gevat om so 'n voertuig te skep.
Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek, het gesê koalisiepolitiek is moeilik om te bestuur.
Met die diensleweringsrekord in die provinsie onder premier Helen Zille die afgelope 10 jaar, werk die DA in die verkiesing, om nie in 'n koalisieregering te gaan nie. Hy wou nie kommentaar lewer oor Marais as premierskandidaat nie. "Sy rekord spreek vanself."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'