GEORGE NUUS - Die DA se kiesafdeling in George is effektief onder administrasie. Die party se oosstreek het ingegryp in die aanloop tot die algemene verkiesing. Dit kom te midde van kommer dat as daar nie betyds opgetree word nie, dit die party se verkiesingspoging in George kan lamlê.
Dit is algemeen bekend dat die DA in George gebuk gaan onder interne woelinge en verskillende faksies.
Verskeie pogings is al in die verlede aangewend om die situasie op te los, maar sonder sukses.
'n Verkiesingswerkgroep is gevorm en daar is betroubaar verneem dat die werkgroep die afgelope Vrydag die eerste keer vergader het. Die werkgroep het Raybin Figland as voorsitter gekies.
George Herald is in besit van 'n vertroulike brief wat deur Jaco Londt, voorsitter van die DA se oosstreek op 20 Januarie geskryf is.
Daarin verwys hy na 'n vergadering van die oosstreek se uitvoerende bestuur wat op 1 Desember gehou is en waar versoeke vir hulp en ingryping bespreek is. In die brief word onder meer verwys na die bedankings van die kiesafdelingsvoorsitter, die sekretaris, die tesourier en 'n addisionele lid. Die waarnemende sekretaris het toe later 'n versoek vir hulp en ingryping gerig.
In die brief wys Londt ook daarop dat George tans deur 'n moeilike politieke tyd gaan en dit hou 'n beduidende risiko in vir die party se provinsiale verkiesing.
Aanvanklik was die plan dat die verkiesings-werkgroep uit vyf lede sou bestaan.
Drie van hulle is deur die oostreek en twee deur die provinsiale uitvoerende komitee genomineer.
Nadat die DA se provinsiale uitvoerende komitee op 14 Januarie vergader het en van die sake bespreek is, is finale voorstelle gemaak.
Die werkgroep bestaan nou uit die kiesafdelingshoof, die oorblywende lede van die kiesafdelingsbestuur en nog vyf lede wat deur die oosstreek en die provinsiale uitvoerende komitee aangewys is.
Na verneem word het die verkiesingswerkgroep tydens sy eerste vergadering oor die pad vorentoe besin. Dit het plaasgevind in konsultasie met die streek.
Daar is besluit dat George vir die doeleindes van die verkiesingspoging opgedeel word in vyf blokke. 'n Oorhoofse voorsitter sal die leiding neem en elke blok sal ook 'n voorsitter hê.
Londt het by navraag gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die inhoud van die brief nie. Volgens hom het die DA een van die beste provinsiale regerings in die wêreld. "Dit is die verantwoordelikheid van elke struktuur van die party om dit te kommunikeer na die kiesers.
"Die ingryping was die streek wat hande gevat het om die DA se suksesverhaal so goed mootlik te kommunikeer."
'Ons bring jou di enuutste George, Tuinroete nuus'