GEORGE NUUS - Wanneer die son saans sak, word duisende Kersliggies in 'n straat in George aan die voet van die Outeniquaberge aangeskakel.
Dan word Oewerstraat in Denneoord in 'n sprokieswêreld omskep. Die straat is lankal nie net in George bekend nie, maar ver buite die grense van die stad.
Elke jaar in die Kers- en vakansietyd, stroom duisende inwoners en vakansiegangers na die straat. Jonk en oud geniet die Kersliggies en -versierings. Die amptelike aanskakeling van die Kersliggies het reeds plaasgevind en dit is gewoonlik elke aand van 19:00 tot 22:00 of 23:30 aan.
Natuurlik het beurtkrag 'n impak, maar dit demp nie die geesdrif nie. Die liggies het al 'n tradisie geword en kom reeds 'n lang pad. Niel du Plessis, 'n inwoner van die straat, het die eerste keer in 2002 liggies aangebring. Sy pa-hulle het destyds toe hulle na Brenton-on-Sea by Knysna verhuis het, vir hom liggies gegee.
Du Plessis het die liggies by sy huis aangebring, van die ander mense in die straat het dit raakgesien en ook liggies begin aanbring. Aanvanklik was alles op 'n klein skaal, maar dit het oor die jare uitgebrei.
Deesdae is dit 'n groot liggiefees en meer as 20 inwoners in die straat is betrokke. Hulle bestee duisende rande aan die liggies en versierings en die kragrekening is ook hul eie verantwoordelikheid.
Du Plessis het gesê die inwoners in die straat doen baie moeite en dit gaan gepaard met weke se voorafbeplanning. Van die inwoners koop die liggies en ander sit dit self aanmekaar. Daar is ook elke jaar verrassings wat die mense tot op die laaste oomblik hou.
Elke jaar met die aanskakeling word daar 'n braai gehou, die een jaar aan die onderkant van die straat en die ander jaar aan die bokant.
Gewoonlik is die besigste tyd rondom Kersfees. Besoekers is welkom en toegang is gratis. "Dit word meestal vir die kinders aangebring, maar almal, insluitende bejaardes, geniet dit."
Tersia Wyers, 'n inwoner van Oerwerstraat, het aan die George Herald gesê Du Plessis het eerste met die liggies begin. Later het van die ander bure gevolg en teen 2010 was die meeste inwoners betrokke. Die liggies is duur en hoewel dit 'n eenmalige uitgawe is, moet dit soms vervang word.
Sy beraam dat elke huis liggies van minstens R2 000 het. Dit verskil van huis tot huis. Daar is ook die kragrekening en dit beloop sowat R800 per huis vir die maand net vir die liggies en ander versierings. Sy benadruk die inwoners doen dit graag.
"Ons doen met liefde, maar ongelukkig is daar soms vandalisme. Daar is ook van die kinders wat aan die liggies en versierings vat."
Dit gaan ook nie net oor die skade nie. Dit is gevaarlik, want krag is betrokke. Besoekers, veral die met kinders, moet verantwoordelik optree.
Sy sal graag wil sien dat ander strate in George dieselfde doen.
Die liggies sal waarskynlik die eerste naweek van Januarie afgehaal word.
Kersvader sit geduldig op die stoep van 'n huis in Oewerstraar. Foto: Eugene Gunning
Dit neem baie tyd en moeite om die liggies en versierings by huise in Oewerstraat aan te bring. Die eienaars het duidelik hard gewerk om die huis mooi te laat lyk. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'