TUINROETE NUUS - Drie fietsryers, Rudolph Maree, Reghardt van Rensburg en Hannes van der Merwe, gaan op 30 September met 'n sesdag fietsrytog van Kaapstad tot in George begin om geld in te samel vir Mia Lotz, 'n tweejarige dogtertjie van Bloubergstrand wat kogleêre inplantings benodig.
Hulle noem die inisiatief die 'Miles for MIA'-veldtog en hulle begin by Durbanville, drie dae ná Mia se tweede verjaarsdag, en wil op Vrydag 5 Oktober in George arriveer.
Hulle pak die tog aan om klein Mia en haar ouers by te staan in 'n uiters emosioneel uitdagende tyd en om te help om die geweldige finansiële druk te verlig. Hul roete loop deur Greyton, Swellendam, Riversdal, Calitzdorp en Oudtshoorn tot in George en hulle gaan 'n gemiddelde afstand van ongeveer 100 km per dag aflê.
"Dit is 'n totale afstand van 578 km en amper 8 000 m se opdraand wat ons aanpak, maar tog is Mia se pad om weer te kan hoor 'n baie langer en steiler bult om te oorkom," sê Maree. "Met die publiek se hulp, kan ons 'n verskil maak in Mia se geveg om weer te kan hoor."
Enige klein donasie kan help om 'n reuseverskil te maak. Die mikpunt is om R200 000 in te samel.
Om te skenk, besoek die webwerf www.backabuddy.co.za/miles-for-mia. Vind hulle ook op Instagram by miles.for.mia of Facebook by @milesformialotz.Rudolph Maree (links) en Reghardt van Rensburg is op 'n fietsrytoer om geld in te samel vir Mia Lotz se kogleêre inplantings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'