Update
GEORGE NUUS - Kommentaar oor 'n brief van die uittredende DA-raadslid Rassie de Villiers aan sy politieke hoofde as verduideliking vir sy besluit om die leisels op te hang, is wyd gesirkuleer.
Die oorspronklike brief se inhoud is reeds op Maandag 3 September aan die George Herald bekend gemaak. De Villiers het egter by navraag bevestig dat die brief privaat is en aan slegs vier individue in die party se topstruktuur gestuur is. Die aanvanklike besluit om nie oor die brief te berig nie is egter gekortwiek nadat kommentaar oor De Villiersse skrywe wyd en syd met Whatsapp-boodskappe versprei is.
"Hierdie was interne kommunikasie aan die leierskap. Ek is bitter ongelukkig oor die 'verwerking' van my brief wat tans sirkuleer. Dit is totaal en al oordryf en die feite is verdraai," het De Villiers gisteroggend (Woensdag 5 September) aan die George Herald gesê.
Gebrek aan leierskap
Van die kwessies wat in sy brief vervat is, sluit in 'n gebrek aan leierskap en outokratiese bestuurstyl van sommiges in leierskapposisies en 'n disfunksionele koukus wat nie die nodige respek vir mekaar toon nie en die basiese beginsels van kommunikasie ignoreer. "Daar is heelwat hoogs gekwalifiseerde en bekwame raadslede wie se vaardighede nie aangewend word nie," het De Villiers gesê.
Hy noem verder in die brief dat die koukusleierskap sekere raadslede, waaronder hyself, op 10 April aangekla het van omkopery. Na bewering het hulle 'n individu geld aangebied om die reputasie van die burgemeester te beswadder. "Daardie saak is nog nie afgehandel nie," het hy gesê. Laastens noem De Villiers in sy skrywe sy misnoeë met die manipulasie van die evaluasieproses ten opsigte van die aanstelling van 'n direkteur van korporatiewe dienste.
"Dit is waar die skeur in die DA-koukus begin het," lees sy brief.
Volgens De Villiers is die kwessies wat in die brief vervat is, reeds in die DA-koukus bespreek en in verskeie stadiums aan hul leierskap gerapporteer. "Die rede hoekom ek hierdie dinge graag weer wou noem is sodat ons ons funksionering meer effektief wil maak en ons dienslewering aan die gemeenskap verbeter," het De Villiers gesê. "Die Whatsapp-boodskap oor my brief is duidelik geskryf om die DA in 'n slegte lig te stel en my brief het ten doel gehad om ons funksionering te verbeter. Ek is en ek bly steeds 'n lojale DA-lid. Ek is bereid om in die komende verkiesing te help."
Selfevaluering 'n 'DA-kenmerk'
DA-kiesafdelingshoof Andricus van der Westhuizen het by navraag gesê die DA in George bly daartoe verbind om die beste diens moontlik aan die inwoners te lewer. "Oudraadslid De Villiers se skrywe is ‘n kenmerk van die DA se voortdurende selfevaluering. Interne debat mag soms besluite vertraag, maar hierdie skrywe illustreer waarom dit baie belangrik is. Die inhoud sal verder intern bespreek word," het hy gesê.
"Die DA is inderdaad bevoorreg om baie, en veelsydige, individue as raadslede te hê. Soos wat oudraadslid Rassie de Villiers aandui, word die prosesse om die mees geskikte kandidate vir die pos van direkteur: beplanning en direkteur: korporariewe dienste te vul, tans herhaal. Dit word gedoen om enige kommer wat oor die vorige prosesse mag bestaan, uit die weg te ruim."
* Comment on a letter from ex-DA councillor Rassie De Villiers to his political leaders as an explanation for his decision to retire has been widely circulated. Some of the issues contained in his original letter include a lack of leadership and autocratic management style of some in leadership positions, and a dysfunctional caucus that do not show respect to one another and ignore the basic principles of communication.
He further states in the letter that the caucus leadership on 10 April charged certain councillors, including himself, with bribery. According to De Villiers, the issues contained in the letter have already been discussed in the DA caucus and communicated to their leadership at various stages.
Lees 'n vorige artikel: Brief oor stadsleiers kring wyd
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'