CALITZDORP NUUSFLITS - Die bekende oud-Springbokatleet en kunstenaar, John van Reenen, is Maandagnag 20 Augustus in die ouderdom van 71 jaar op Calitzdorp oorlede.
“Ek het hom die afgelope drie en ‘n half jaar dag en nag opgepas: hy het in my arms gesterf,” het Isabel Ludick Dinsdag gesê.
John is op 26 Maart 1947 op Bethlehem in die Vrystaat gebore.
John, een van ses kinders, was ‘n legendariese atleet. Op laerskool op Bethlehem het hy rugby gespeel en geswem, maar toe hy in gr.7 was, het Cif Muller, ‘n onderwyser aan Grey Kollege in Bloemfontein, hom begin afrig in atletiek, en veral spies- en diskusgooi. Hy het in 1965 aan die Hoërskool Voortrekker op Bethlehem matrikuleer.
Van Reenen het mettertyd in ‘n wêreldklas diskusgooier ontwikkel. Toe hy in die middel sestigs weens Suid-Afrika se apartheidsbeleid nie aan die olimpiese spele kon deelneem nie, is hy Amerika toe, waar ses verskillende Amerikaanse universiteite vir hom sportbeurse aangebied het. Aangesien hy nooit Amerikaanse burgerskap kon kry nie, het hy toe in elk geval nie aan die olimpiese spele deelgeneem nie.
In 1971 het ‘n hy graad in beeldende kunste aan die Washington State University se kunsdepartement behaal, en in 1974 teruggekeer na Suid-Afrika. In 1975 het hy ‘n honneursgraad in kuns aan die Universiteit van Stellenbosch behaal, en in dieselfde jaar ‘n diskus-rekordafstand van 68,48 m gegooi – ‘n rekord wat 25 jaar bly staan het.
John van Reenen as kampioenatleet in die sewentiger jare.
Daarna het hy op verskeie dorpe gewoon, totdat hy ‘n huis op De Rust gekoop het en die Van Reenen-galery in die hoofstraat bedryf het. Later het hy op ‘n vriend, Joel Immerman, se plaas buite De Rust gaan woon.
Lees meer in Vrydag se Oudtshoorn Courant, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'