GEORGE NUUS - Na sy tweede uitverkoopte eenmanvertoning vroeër vanjaar is die grapjas, Moses Williams, weer gereed vir komiese aksie in sy hartstaal met sy nuutste groepvertoning, Lag in Afrikaans, in samewerking met die Suid-Kaap se beste storievertellers.
Lag in Afrikaans sal op Sondag 29 Julie om 16:00 by George-kunsteteater te sien wees. Williams, algemeen bekend as Coloured Laaitie, sê hy het vir Pat Taylor, Ivan Johnson, John Petersen en Johny Rondganger, genader met sy nuwe vertoning omdat hulle gesoute storievertellers is.
"Ek wou graag iets anders doen as my gewone eenmanvertonings, toe sit ek hierdie produksie bymekaar en selekteer goeie storievertellers, mense lag mos graag saam as hulle stories goed verstaan."
Williams sê die vier is almal plaaslike bekendes, Taylor en Rondganger is aanbieders van EDENfm se vermaak-program Party Time op Saterdagaande en Ivan Johnson is 'n voormalige groepslid van, Brasse Vani Lokasie, waarvan oorlede Daniël Maritz en Oom Tom deel was.
Volgens Williams is Lag in Afrikaans 'n spesiale vertoning, want gewoonlik hou hy slegs een vertoning per jaar in George. "Ek wil hê mense moet uitsien na 'n rustige Sondagmiddag waar hulle net kan kom sit, ontspan en stories luister. Ek noem die produksie 'n komedie geselskap so ons gaan natuurlik ook baie interaksie met die gehoor hê."
Williams is dankbaar vir die groei in sy loopbaan, vanaf sy eerste vertoning wat slegs ses ondersteuners gehad het spog hy vandag met uitverkoopte vertonings en verbindings met bekendes in die vermaaklikheidsbedryf.
John Petersen
"Ek is gelukkig om tans 'n groepslid te wees van die dramagroep Kinders van die Ses, waar Emo Adams ook sy loopbaan afgeskop het onder leiding van sy pa, Omar Adams, wat vandag 'n baie groot mentor vir my is."
BBP-kaartjies vir Lag in Afrikaans word teen R100 verkoop en algemene kaartjies verkoop teen R80 per persoon.
Vir meer inligting skakel Williams by 074 301 2415 of besoek sy Facebook-blad Mc Moses Sa.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'