GEORGE NUUS - Kliënte van Pure Craft and Foods in George het die afgelope twee weke die George Herald behoorlik met briewe van ondersteuning bestook na 'n onlangse artikel in die koerant dié gewilde eetplek volgens hulle nie vleiend genoeg uitgebeeld het nie. Die resensie deur Quisine Queen & Kwisine King het omtrent deurgeloop - nie omdat dit die restaurant as sulks afkraak nie, maar omdat dit glo nie 'n korrekte prentjie van Pure Craft and Foods geskilder het nie.
Eienaar Silveihn Steenkamp sê die terugvoer van kliënte en die briewe wat vir hom en sy onderneming in die bresse tree, laat sy hart warm klop. "Dis wonderlik om al die ondersteuning te geniet. Ons is 'n 260-stoel restaurant en op Vrydae-aande en Sondae-middae is ons gewoonlik tjok-en-blok.
"Ons werk baie hard om kliënte te behou en nuwe gaste te lok. Ons bied van middel Junie ook 'n winterspyskaart wat beloof om die koue heeltemal te verdryf en ons het ook nuwe biere op tap. Kom kyk en proe maar self hoekom ons een van die gewildste restaurante in George is."
Die skrywer van die resensie, 'n geheime eter, het insinueer dat daar in die eetplek se dekor en spyskaart te veel spore van die oorspronklike restaurant te bespeur is. Steenkamp sê hy het voor hy Pure Craft and Foods oopgemaak het, met talle restaurateurs koppe bymekaargesit en ook by die oorspronklike eienaar van Kingfisher, Rob Warrand om advies aangeklop.
Pure Craft and Foods eienaar Silveihn Steenkamp en bestuurder Kylie-Jade Swart geniet die restaurantbedryf terdeë en wil hulle konsep in die Suid-Kaap uitbrei. Foto: Ilse Schoonraad
"Ek het voortgebou op die nalatenskap van Rob en die beste elemente behou. 'n Goeie voorbeeld is die Kingfisher-sous. Dit was so gewild, ek het dit op die spyskaart gehou, maar in plaas daarvan om dit oor die geregte te skep, word dit apart bedien en jy kan jou sousie oorsit na smaak."
Kort na Pure Craft and Foods verlede jaar in die lente oopgemaak het, het Steenkamp die plaaslike Bubbling Under-toekenning vir opkomende restaurante ontvang. Steenkamp sê hy ploeg graag terug en ondersteun plaaslike organisasies soos Up with Downs.
Sien die lojale kliënte se briewe op bl. 31 van vandag se George Herald.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'