GEORGE NUUS - Twee boorlinge van George, Jan Hoogendyk, beter bekend as Elvis Blue, en Claudia Witbooi, beter bekend as Yoma, het Sondagaand, 29 April elk met die louere by dié jaar se Ghoema-toekennings weggestap.
Die room van die Suid-Afrikaanse musiekbedryf is tydens 'n spoggeleentheid in Theatre on Marcellus in Emperor's Palace aan die Oos-Rand vereer.
Rymkletsers Hemelbesem en sy vrou, Yoma, wat tans in Johannesburg bly, asook plaaslike kunstenaar Hakkiesdraad Hartman, is genomineer in die kategorie vir beste Afrikaanse hip-hop-liedjie van die jaar. Yoma het dié toekenning opgeraap met haar treffer Wille Kat.
"Ek was verskriklik dankbaar om daar [by die Ghoema-toekennings] te kon wees. Dit is vir my 'n groot mylpaal en ek het nooit gedink ek sou eers genomineer word vir 'n Ghoema nie.
"Vir my as vrou was dit belangrik om die toekenning te kon kry om daardeur ander vroue te inspireer. Ons almal het 'n doel en dit maak jou waardevol. Gaan groot. Gaan vir goud. Geen droom is té groot nie," sê Yoma.
Hakkiesdraad Hartman (links) en Francois van Coke by die 2018 Ghoema-toekennings.
Haar album Moedertaal is digitaal beskikbaar op verskeie platforms. Vir 'n hardekopie kan sy by Yoma@besembos.co.za gekontak word.
Drie van Elvis Blue se liedjies, Die Brug, Werner en Elke Hart is benoem in die kategorie vir beste komposisie. Die Brug, het hom dié toekenning besorg.
'n Baie gelukkige Yoma met haar Ghoema-toekenning vir die beste Afrikaanse hip-hop-liedjie van die jaar.
Die kleurvolle Klikkerlanders van George, wat in 2017 ook genomineer is, het hierdie jaar twee nominasies in die kategorie vir die beste kinder-album of DVD gekry. Piet Smit met sy DVD, Liedjies en Rympies, het egter dié kategorie gewen.
"Klikkerland voel baie geëerd om twee jaar in 'n ry genomineer te word en daar is altyd volgende jaar. Piet Smit is 'n waardige wenner," het Klikkerland se Carina Beukes kort na die toekennings aan die George Herald gesê.
Klikkerland se Carina Beukes en Marinda Fourie tydens 'n kykNet-onderhoud kort voor die toekennings. Foto: Facebook
* Two former George residents, Jan Hoogendyk, better known as Elvis Blue, and Claudia Witbooi, better known as Yoma, each walked away with a Ghoema award on Sunday evening, 29 April. The cream of the South African music industry was honoured at this year's Ghoema Awards hosted at Theatre on Marcellus at Emperor's Palace on the East Rand.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'