GEORGE NUUS - Atletiek SWD se atlete het rede om te pronk nadat hulle uitstaande prestasies gelewer het by die SA jeug- (o.18) en junior byeenkoms (o.20) in die Paarl.
Die atlete van George het agt medaljes ingeoes wat een goue, drie silwer- en vier bronsmedaljes insluit.
Shireen Noble, president van ASWD het gesê: "Die uitvoerende bestuur van ASWD is baie trots op die atlete se uitstaande prestasies.
Die SWD het negende geëindig uit die 17 provinsies wat deelgeneem het en dit te danke aan ons atlete. Ons wil die afrigters bedank vir hul harde werk asook die ouers vir hul volgehoue ondersteuning. 80% van die medaljes kom van die velditems en hiermee kon ons die leemtes ten op opsigte van die baan identifiseer wat ons definitief gaan aanspreek."
Die Kwagga Meike Strydom, wat vir die vyfde jaar agtereenvolgens die SA titel gebuit het, kan opreg aanspraak maak as die grootste uitstalproduk van atletiek SWD.
Meike het die gewigstoot vir vroue o.20 met 'n afstand van 15,57 m gewen. Sy het ook 'n silwermedalje gewen in die diskus met 'n afstand van 42,60 m.
"Ek is ontsettend bly, trots en dankbaar dat ek vyf jaar in 'n ry SA skole, ASA jeug en junior kampioen kan wees. Om hierdie jaar in twee items medaljes te kon ontvang, is 'n wonderlike afsluiting van my hoërskoolatletiek. Ek gaan steeds streef na groter hoogtes om my passie vir atletiek uit te leef," het Strydom na die byeenkoms aan die George Herald gesê.
Simonn Swanevelder (Hoërskool Outeniqua) het 'n silwermedalje ontvang in paalspring vir vroue o.20 met 'n hoogte van 3,30 m.
Antonio Farmer van York High het 'n silwermedalje in die 10 km-stap vir mans o.20 in 'n tyd van 48:10.54 ontvang.
Simonn Swanevelder (Hoërskool Outeniqua) het 'n silwermedalje ontvang in paalspring vir vroue o.20 met 'n hoogte van 3,30 m.
Die volgende Kwagga-atlete ontvang bronsmedaljes:
- Hanno du Plessis: mans o.20-hamergooi (60,27 m);
- Mire Reinstorf: dogters o.18-paalspring (3,40 m);
- Carmien Olivier: dogters o.18-hoogspring (1,70 m);
- Nolene van Rensburg: dogters o.18 5 km-stap (27:51.18)
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'