GEORGE NUUS - 'n Nagmerrie van 'n nag het op senior inspekteur Salome Bruyns van die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging (DBV) gewag toe sy Dinsdagoggend omstreeks 01:30 uitgeroep is na 'n toneel in Thembalethu waar 'n perd raakgery is.
Hier het sy egter op 'n grutoneel afgekom waar 'n perd deur 'n taxi raakgery is. Haar eerste prioriteit was egter om die dier se lyding se stop.
"Die dier het elke keer probeer opstaan, maar jy kon sien sy rug was af. Dit het ook gelyk of sy agterbene gebreek was. So elke keer het hy sy kop teen die teer gestamp. Ek moes vinnig 'n besluit maak."
Vir Bruyns was dit nie 'n maklike besluit nie, maar die regte een om die dier nie verder te laat ly nie. Sy het hom met 'n penpistool bewusteloos gemaak, waarna die perd uit sy lyding verlos is. Daarna het sy die Thembalethu-polisie gaan haal, wat toe nog nie op die toneel was nie.
"Ek was nie seker of iemand hulle al vroeër gebel het nie, maar ek kon nie die kans waag om die dier daar te los, en nog 'n ongeluk te veroorsaak nie. Die polisie het my glad nie gehelp om die perd uit die pad te sleep nie. Hulle is net saam omdat die gemoedere so hoog geloop het. Ek en 'n medewerker en 'n lid van die publiek het dit alleen gedoen."
Bruyns was Dinsdagoggend 10:00 steeds in 'n toestand, want die perd se dood was eintlik net die kersie op die koek van 'n naweek van wrede dieremishandeling.
Die dier se karkas is vroeg Dinsdagoggend verwyder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'