GEORGE NUUSFLITS - George DA-raadslid Gert Niehaus, het vanoggend sy bedanking uit die politiek op sosiale media aangekondig.
Niehaus was die wyksraadslid van wyk 18 (deel van Denneoord, Denverpark, Loeriepark), wat beteken dat 'n tussenverkiesing binnekort in die wyk sal plaasvind.
Niehaus is een van die vier burgemeesterskomiteelede wat hul poste kwyt is na 'n afkondiging deur die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, einde verlede jaar.
Die nuwe kandidate word môre aangekondig tydens ‘n raadsvergadering wat reeds twee keer uitgestel is.
In sy Facebook-inskrywing sê Niehaus dat hy die besluit geneem het ter wille van sy familie: "Ek vra asb. dat julle my besluit sal respekteer.
"Ek het vandag my bedanking ingedien en finaal klaar gemaak met politiek.
"Dankie vir elkeen se ondersteuning en omgee in my tyd as raadslid.
"Dit is belangrik dat ek slag aan myself en familie sal dink en meer tyd met hulle spandeer en doen wat die beste vir ons as familie is.
"Nogmaals dankie, lief julle almal en alles wat mooi is vir toekoms."
Lees meer in Donderdag se George Herald, asook aanlyn.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'