Kinderpornografie & dwelms in motor gevind

Konstabel Eslin Kammies tussen die daggaplante agter in die verdagte se erf.

GEORGE NUUS - 'n Motoris (38) van Wilderness wat by 'n padblokkade vir 'n roetine-ondersoek afgetrek is, het sy Moses teëgekom toe die polisie nie net dwelms in die motor gekry het nie, maar ook beeldmateriaal van kinderpornografie op die verdagte se selfoon.
 
Verdere ondersoek by die verdagte se huis, in 'n gesogte deel van Wilderness, het die polisie na 'n klein daggaplantasie agter op die erf gelei en nog foto’s en video's van kinderpornografie is op 'n rekenaar en CD’s gekry.
 
Volgens lt. Annacletta Mothoalo van die George-polisie was lede van die George-misdaadvoorkomingseenheid verlede Donderdag besig met 'n roetine-ondersoek wat deel uitgemaak het van Operasie Paseka op die N2-snelweg in Wilderness.
 
"'n Oplettende konstabel Eslin Kammies het die verdagte in hegtenis geneem nadat tik en dagga in sy besit gevind is. Daarna het ons 'n lasbrief bekom om die verdagte se huis te deursoek. Agter op die erf het ons 42 daggabome verwyder en daar is beslag gelê op vier hardeskywe, 'n rekenaar en CD’s waarop daar beeldmateriaal van kinderpornografie was," sê lt. Mothoalo.
 
Nog dagga is in 'n oond in die kombuis gevind. Skale waarmee die dwelms vermoedelik geweeg is, is ook in een van die slaapkamers gevind tesame met ander toerusting.
 
Die verdagte sal later die week in die George-landdroshof verskyn op klagtes van besit van dagga en tik, kweek en handel in dagga, en die besit van kinderpornografie.
 
Die hoof van die George-misdaadvoorkomingseenheid, kapt. Corné Engelbrecht het die lede van die eenheid en in besonder konstabel Kammies bedank vir dié sukses.
 
"Konstabel Kammies het verlede Woensdag sy suster aan die dood afgestaan, en moes nie by die werk gewees het nie. Maar Donderdag was hy aan diens en so toegewyd soos altyd om sy werk pligsgetrou te doen," het kapt. Engelbrecht gesê.
 
* A 38-year-old resident from Wilderness pulled over by police at a roadblock last Thursday for a routine investigation, was arrested for possession of dagga and Tik. Police also found images of child pornography on his cellphone. They obtained a search warrant to search the suspect's house in Wilderness where they found more drugs and confiscated a computer containing child pornography. The suspect will appear in the George Magistrate's Court this week.
 
 
ARTIKEL: LIZETTE DA SILVA, GEORGE HERALD-JOERNALIS 
 
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'


Your Comments

Copyright 2017 Group Editors Co PTY Ltd t/a George Herald