Update
GEORGE NUUS - Die lyk van 'n jong man wat Maandagmiddag, 20 November, kort na 13:00 naby Dolphin's Point in die Kaaimansrivier uitgespoel het, kan moontlik dié van 'n vermiste 17-jarige seun van Thembalethu wees.
Hy het 'n bruin broek en blou sweetpakbostuk aangehad toe hy laas gesien is.
Geraldine Maswati (27) van Thembalethu het vandeesweek aan die George Herald vertel haar broer, Franklin Booysen, word sedert verlede Woensdag 15 November vermis. Hy is laas om 12:00 gesien.
"Ons het hom Donderdagoggend by die Thembalethu-polisiestasie as vermis aangemeld nadat hy nie Woensdagaand huis toe gekom het nie," het sy gesê.
Sy het die George Herald Dinsdagoggend gekontak na aanleiding van 'n inskrywing op die koerant se Facebook-blad oor 'n lyk wat by Kaaimansrivier uitgespoel het.
Die vermiste seun se ma, Susanna Maswati, is Dinsdagoggend na die lykshuis om die lyk uit te ken, maar weens die erge stadium van ontbinding is sy nie toegelaat om die lyk te besigtig nie. Die liggaam was na bewering reeds 'n geruime tyd in die water.
"Hulle het my ma se bloed getrek. Dit word nou weggestuur vir toetse om te sien of dit my broer is of nie. Dit gaan blykbaar maande neem vir die toetse om terug te kom. Wie kan maande vir so iets wag? Ons gaan nog vir maande moet wonder of dit hy is of nie," het Maswati gesê.
Die oorsaak van die jong man se dood was teen druktyd nog nie bevestig nie.
Lees 'n vorige nuusflits: Lyk spoel uit by Kaaimans
ARTIKEL: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'